SOWAT 26 000 liter diesel is reeds suksesvol uit die Grootrivier in Meiringspoort gepomp.
Dit volg nadat 42 000 liter diesel verlede Woensdag (16 Augustus) in Meiringspoort gestort is toe ’n tenkwa met diesel op ’n draai naby die rivier omgeslaan het.
Die diesel wat in die water beland het, het egter reeds sy tol geëis.
Volgens ’n verklaring van die Eden Distriksmunisipaliteit gister het die span op die toneel aangedui dat meer as 30 visse, ’n paar platannas en twee eende al as gevolg van die diesel in die water gevrek het.
Luidens die verklaring vloei die rivier tans sterk nadat reën in die ongewing geval het en het Spilltech, die maatskappy wat aangestel is om die dieselstorting op te ruim, drywende versperrings in die rivier geplaas om die verspreiding van die diesel te beperk. Daar is ook ’n “borrelskerm” geïnstalleer om suurstofvlakke in die water te verbeter en die plant- en dierelewe in die rivier te help oorleef.