“Werk aan De Jager tartanbaan op skedule”

Die tartanbaan van Oudtshoorn se De Jager Sportkompleks word tans aan gewerk. Hierdie foto toon onlangse vordering van bo. (Foto verskaf)

DIE kondisie van die tartanbaan by Oudtshoorn se De Jager Sportkompleks is al jare lank ’n besprekingspunt onder inwoners en sportlui van die dorp, maar volgens die Oudtshoorn Munisipaliteit is herstelwerk en opgraderings aan die baan op skedule om binnekort voltooi te word.

Die baan se toestand het reeds vir ’n klompie jare gesorg vir kopsere vir sportbyeenkomsorganiseerders, veral in atletiekkringe.

Bevestiging deur die Munisipaliteit van opgraderings en herstelwerk, wat reeds in April vanjaar afgeskop het, was nie net welkome nuus vir Oudtshoorn se atlete nie, maar ook vir die streek se atletiekgemeenskap omdat distriks- en provinsiale atletiek- en tweekampbyeenkomste gereeld hier gehou word.

Hierdie byeenkomste, wat honderde en soms selfs duisende besoekers op ’n slag Oudtshoorn toe lok, is ’n groot finansiële hupstoot vir die dorp se ekonomie.

Rolspelers in die atletiek- en tweekampgemeenskap het die afgelope jare dikwels hul kommer oor die toestand van die tartanbaan te kenne gegee, met groot dele van die tartanoppervlak wat oplig en die volle gebruik daarvan belemmer.

Luidens ’n verklaring van die Munisipaliteit is die werk aan die baan, ten spyte van die reën die afgelope maand, op skedule. “Kwotasies vir die heropbou van die hele fasiliteit is in 2015 aangevra en sou die koste R22 miljoen gewees het. Verlede jaar is ’n bedrag van R10 miljoen begroot vir die vervanging van die tartanoppervlak wat genoeg sou gewees het om 3 000 vierkante meter te doen. Danksy goeie beplanning en uitstekende samewerking tussen die verskillende kontrakteurs kan ’n totaal van 3 500 vierkante meter vervang word,” lui die verklaring.

Volgens die Munisipaliteit is gedeeltes van die baan wat vir vervanging geprioritiseer word twee binnebane, die 100 m-tuisstrek en die eerste draai. “Voorbereidingswerk van die basis is afgehandel en daar word verwag dat die lê van die tartanoppervlak volgende week sal begin. Met die voltooiing van die huidige werk sal die hele baan in volle gebruik wees. Daar word beraam dat werk teen die eerste week in Julie voltooi sal wees,” lui die verklaring verder.

Intussen was daar kommer onder sportlui dat daar onder meer geen aandag aan die versprong- en hoogsprongaanlope gegee is nie. Na navraag het die Munisipaliteit gesê dat hierdie gedeeltes nog steeds gebruik kan word vir kompetisies, al is dit nie oorgedoen nie.

Hans van der Veen, bekende in sportkringe en interim bestuurslid van die Oudtshoorn Sportinisiatief wat sporttoerisme op die dorp probeer bevorder, het gesê dat die beginsel daarvan om met die bestaande begroting ’n kleiner gedeelte van die tartanbaan oor te doen en geld oor te los en te spandeer op die installasie van ligte absoluut sin maak. “Die buitekantste bane word baie minder as die pylvlak en die binneste twee bane gebruik so die besluit om net dié gedeelte oor te doen is sinvol,” het hy gesê.

Volgens Van der Veen kan nasionale byeenkomste nie sonder ordentlike spreiligte aangebied word nie.

“Daar is alreeds in Maart begin met die maak van gate vir die ligte en beton is aan die noordoostelike kant gegooi. Nog twee verdere gate is gemaak, maar beton is nog nie gegooi nie. Ook is die pale waarteen die ligte gemonteer gaan word nog nie afgelewer nie. Dit laat kommer ontstaan of die ligte wel vanjaar nog gedoen gaan word,” het hy bygevoeg.

Van der Veen het ook sy kommer uitgespreek oor die verspring-, driesprong- en spiesgooi-aanlope wat nie oorgedoen word nie en ook die elektroniese tydapparaat wat tans nie werk nie.

“Geen nasionale rekords word sonder ’n elektroniese tydstelsel erken nie en daarom is dit belangrik om die herstel hiervan nie agterweë te laat nie,” het hy gesê. (Deur Stefan Skapie Goosen)