Vollies-lapdag herleef by reünie

Van die Vollies met hul nuwe kleurbaadjies. Foto: Garnett Wicomb

MEER as 200 oud-studente, dosente en ’n voormalige rektor van die destydse Onderwyskollege Suid Kaapland (OKSK), ook bekend as die Vollies, het die afgelope naweek, tydens die 70ste bestaansjaar, ’n reünie op Oudtshoorn bygewoon.

Weens die Covid-pandemie kon dié reünie nie in 2020 en 2021 plaasvind nie.

Die kollege het in 1952 in twee klaskamers van die De Villiers Primêre Skool hul deure geopen, maar is in 1996 deur die staat gesluit.

Reggy Kleintjies, ’n voormalige rektor, het Sondag tydens die tradisionele dankseggingsdiens by die Bridgton Verenigende Gereformeerde Kerk, die ko­mitee bedank vir die uitnodiging en hul geluk gewens met die puik reëlings.

Hierdie was die eerste keer sedert die sluiting van die kollege dat daar weer ’n

“Lapoorhandigingseremonie” plaasgevind het, en was ’n geskiedkundige oomblik.

Dit het ekstra spesiale moeite geverg om die materiaal vir die destydse kleurbaadjie, wat deesdae moeilik verkrygbaar is, op te spoor en 33 baadjies te maak vir die Vollies.

Dié baadjie wat bekend staan as “die lap”, kon eers deur tweedejaarstudente gedra word nadat dit oorhandig is op “lapdag”.

Dulary Tait, weduwee van wyle Lionel Tait, wat vanaf 1982 tot 1996 die laaste rektor van die kollege was, het tydens ’n emosionele oomblik Tait se rek-torstoga aan die reüniekomitee oorhandig.

Die toga sal nou deel word van ’n spesiale Volliemuseum-uitstalling in die CP Nel Museum.

Tydens ’n gewyde oomblik is ’n krans gelê en kers aangesteek om Vollies wat sedert die laaste reünie in 2019 oorlede is, te onthou terwyl hul name gelees is. (Deur Garnett Wicomb)