Verkragter kry 15 jaar gevangenisstraf

Landdroshof-Oudtshoorn

Deur Garnett Wicomb
’N MAN van die De Rust-distrik wat daaraan skuldig bevind is dat hy ’n niggie van hom twee keer verkrag het, is Vrydag in die Oudtshoorn Streekhof 15 jaar gevangenisstraf opgelê.

Franklin Malgas (24), ’n plaaswerker, het op twee aanklagte van verkragting tereg gestaan en ten spyte van verdoemende getuienis sy weergawe van wat gebeur het, verander en ook sy pa by die saak betrek.

Streeklanddros Daniel Boks het met vonnisoplegging gesê Malgas was nie eerlik en opreg met die hof nie.

Hy het daarop gewys dat die 27-jarige slagoffer, die ma van drie kinders, beserings opgedoen het en steeds getraumatiseer is.

“Sy huil nog gereeld oor die voorval en is teleurgesteld oor wat jy aan haar gedoen het omdat sy jou vertrou het,” het die landdros aan Malgas gesê.

Malgas het getuig dat hy onder die invloed van tik was, maar tot geweet het wat hy doen.

Die landdros het in ag geneem dat hy ’n eerste oortreder is.

Malgas wat langer as ’n jaar verhoorafwagtend was, is ook onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit.