Deur Garnett Wicomb
’N MUNISIPALE verkeersbeampte wat daarvan aangekla word dat hy toetse vir leerlingrybewyse gemanipuleer en rybewyse uitgereik het in ruil vir betaling, moet op 9 Mei weer in die streekhof op Oudtshoorn wees.
Die verkeersbeampte van Prins Albert, Andrew Meintjies (45), staan tereg op twee klagtes van korrupsie.
Die saak teen hom is verlede Dinsdag (25 April) in die Oudtshoorn Streekhof voorlopig uitgestel omdat landdros Mark van Wyngaardt wat die saak aanhoor, siek was.
Meintjies is in Maart verlede jaar op Drie Susters deur speurders van die nasionale direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke (die Valke) in hegtenis geneem.
Die staatsaanklaer, Willem Vister, het streeklanddros JH Breyl verlede Dinsdag versoek om die saak voorlopig tot 9 Mei uit te stel en Meintjies se borgvoorwaardes tot dan te verleng.