Twee in streekhof vir matrikulant se dood

DIE saak teen die twee verdagte mans wat van die moord op ’n 19-jarige matrikulant, Angelo Mane­wille, in 2018 aangekla word, is met hul eerste verskyning in die streekhof vir verhoor tot later die maand uitge­stel.

Richard Manel (40) en Shaun Nagel (39), word daarvan aangekla dat hulle Manewille op Saterdag 28 Julie 2018 wreed in Springbokweg, Bridgton, vermoor het.

Die oorledene is glo deur Nagel vasgehou en twee keer deur Manel met ’n mes gesteek.

Die ondersoekbeampte, ao Piet Hendricks, het tydens hul borgaansoek in die landdroshof getuig dat hy die ondersoek in Oktober 2018 oorgeneem en verklarings van talle ooggetuies bekom het wat die twee beskuldigdes met die moord verbind het.

Die beweerde voorval het plaasgevind terwyl een van die verdagtes, Manel, op parool was.

Landdros Roelf Konstabel het met die borgaansoek beklemtoon dat die beskuldigdes teregstaan op ’n erns­tige misdryf en dat die gemeenskap baie ongelukkig is oor dié misdaad.

Hy het gesê daar is egter geen getuienis voor die hof gebring wat daarop dui dat die twee mans se vrylating op borgtog tot enige onrus in die gemeenskap sal lei nie.

Die twee mans se regsverteen- woordiger, Thelisha Piedt, het aan die hof gesê dat haar kliënte op borgtog geregtig is.

Die hof het borgtog van R1 000 aan elk van die twee verdagtes toegestaan.

Die hof het voorts gelas dat hulle drie dae per week by die Bridgton Polisiekantoor moet aanmeld.

Hulle mag voorts nie kontak maak met die agt staatsgetuies nie.

Hulle mag ook nie by verdere misdaad betrokke raak nie.

Streeklanddros Sylvia Mandla het die saak vir verhoor tot Vrydag (22 November 2019) vir verdere verhoor uitgestel.

(Deur Garnett Wicomb)