Ockie Nel (links) en Gerrie Ferreira by een van Karoo Livestock Exports se spogboerbokke. Foto: Schalk le Roux
DIE belangstelling vir Karoo Livestock Exports se boerbokinligtingsmiddag Saterdag op die wildplaas Chandelier suid van Oudtshoorn is baie goed, sê Gerrie Ferreira, eienaar.
Belangstellendes het nog tot môre om 10:00 tyd om aan te dui of hulle die dag kom bywoon, sê Ferreira.
Die doel van die dag is om boere wat daarin belangstel om met boerbokke te boer, in te lig oor verskeie aspekte van so ’n boerdery.
Aan die einde van die dag sal die teenwoordiges die geleentheid kry om weg te lê aan ’n boerbok wat op die spit gebraai is.
Ferreira, wat die inligtingsdag saam met sy skoonseun, Ockie Nel, aanbied, sê hy het baie ondervinding in die bedryf en voer al 24 jaar lank boerbokke na 36 lande uit. “Ek het skoolgeld betaal en dit is nie nodig dat nuwe toetreders tot die bedryf dieselfde foute begaan as wat ek in die begindae gemaak het nie,” sê hy.
Die program vir die middag behels lesings oor boerbokboerdery met onderwerpe soos voeding, siektes, die behandeling van siektes, kunsmatige inseminasie, rasstandaarde, uitvoer-markte en winsgewindheid.
Volgens Ferreira sal daar eers so-wat twee uur lank lesings aangebied word waarna na die krale beweeg sal word en demontrasies gedoen en praktiese wenke gegee sal word.
“Buitelandse kopers het baie voor- en afkeure wat boerbokke betref, en ons wil graag boere toerus met ons kennis van die buitelandse mark.”
Die inligtingsdag gaan ook deur buitelandse kliënte bygewoon word.
’n Boerbokboerdery bied aan boe-re die geleentheid om hul boerdery te diversifiseer die risiko te versprei.
“Dit hou vir Karoo Livestock Exports die voordeel in dat ons meer boerbokke in die Klein Karoo vir die uitvoermark sal kan aankoop en nie so dikwels die land vol hoef te ry agter bokke aan nie,” sê Ferreira.
Indien die standaard van die bokke vir die buiteland aanvaarbaar is, sal telers in die Klein Karoo ’n premie daarvoor ontvang.
“Dit is een van die redes waarom ons hierdie inligtingsdag aanbied,” het Ferreira gesê.
Vir navrae kan Ferreira gekontak word by sel 082 450 2110 en Nel by 082 057 1616.
(Deur Schalk le Roux)