

Die vier winkels wat Sondagoggend deur twee inbrekers geteiken is (foto heelbo) en die kasregister (foto bo) wat deur een stukkend gegooi is. Foto’s: Ilze-Mari Gründling
Deur Ilze-Mari Gründling
DIE Oudtshoorn Polisie ondersoek vier sake van huisbraak nadat twee mans Sondagoggend kort na 06:00 by vier besighede in Adderleystraat ingebreek het.
Die besighede wat geteiken is, is Moneytree, Chloe’s Boutique, Loma’s Hair Boutique en Market Freezeries.
Volgens kapt Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, het die mans elektriese ware, kontant en lugtyd gesteel.
Loma’s Hair Boutique se eienaar, Agnes Maarman, sê dit wil voorkom of die mans deur Moneytree toegang verkry het tot die gebou. “Hulle het van agter af ingekom. Dit lyk asof hulle eintlik by Market Freezeries wou uitkom. By ons is niks gesteel nie.”
Volgens ’n woordvoerder vir Market Freezeries wat gevra het om anoniem te bly, is R1 000 kontant uit die kasregister gesteel.
Beeldmateriaal van sekuriteitskameras toon hoe die mans kort na 06:00 toegang tot die winkel verkry en die kasregister stukkend gooi en in die winkel rondsoek, terwyl die ander een agter die toonbank ingaan en lugtyd steel.
Volgens Visser is niemand nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.