Op 10 Desember moes Oudtshoorniete met skok verneem dat die bekende dokter Piet Loubser oorlede is. Hy was 71 jaar oud. Piet is in November met kanker gediagnoseer en kort daarna oorlede.
Piet en sy gesin het in 1990 vanaf Windhoek in Namibië na Oudtshoorn verhuis.
Hy het later by Oudtshoorn se staatshospitaal vir baie jare gewerk, en was bekend aan baie Oudts-hoorniete.
“Ons is bly dat hy ’n lang lyding gespaar is,” het Cecile Loubser, sy vrou en bekende eiendomsagent, aan Die Hoorn gesê.
Piet is in Stellenbosch in die Kaap gebore en het later daar as dokter gestudeer.
Hy laat drie kinders, twee seuns en ’n dogter, asook vier kleinkinders agter. Sy seuns, Radie asook Braam, deel hul liefde vir diere met hul pa. Piet was nie net lief vir die natuur nie, maar ook ’n ywerige perderuiter wat gereeld aan uithouritte deelgeneem het. Sy dogter Elmarie, ook ’n pediater, stap waarlik in haar pa se voetspore.
Sy lewe is op 19 Desember gevier deur sy familie en nabye vriende.
“Ons as gesin wil almal bedank vir hulle omgee, al die boodskappe en blomme en wie saam met ons sy lewe gevier het. Ons waardeer dit opreg,” sluit Cecile af. (ANGELIQUE ERASMUS)
Totsiens dokter Piet
Piet en Cecile Loubser saam met twee van hulle kleinkinders, Braam en Klara. Foto verskaf