’N LUIDRUGTIGE vrou wat daarop aangedring het om by ’n spesiale vergadering van die Oudtshoorn-raad toegelaat te word, het haar hemp Dinsdagoggend in die munisipale gebou uitgepluk terwyl sy ontsteld gelyk het en geskree het dat sy die vergadering wil bywoon.
Sy is deur vier sekuriteitswagte verhinder om met die trappe op te loop na die raadsaal, en het terwyl sy luidkeels beswaar aangeteken het, in haar bra met haar hemp in die hand rondgetrap.
Die vrou het omstreeks 10:00 by die sekuriteits-draaihek ingeglip toe dit vir Die Hoorn se redakteur oopgemaak is om ’n agenda van die ver- gadering te gaan afhaal.
Die eerste deel van die raadsvergadering was egter “in komitee” – dus nie oop vir die publiek nie – omdat ’n interne personeelkwessie bespreek is, naamlik die aanstelling van ’n waarnemende finansiële hoof.
Die vrou en enkele ander vroue was baie ongelukkig omdat hulle nie toegang kon kry tot die raadsvergadering nie.
Daar was die oggend ’n sterk sekuriteitsteenwoordigheid by die munisipale gebou. Die Hoorn het verneem dat daar gerugte was dat inwoners by die raadsvergadering wou betoog. Die gerugte kon nie teen druktyd bevestig word nie.
(Deur Liesel le Roux)