’N Man van Oudtshoon wat twee maande nadat hy op parool vrygelaat is, ’n motorvoertuig ge-steel en by ’n tweede ingebreek het, is verlede week in die Oudtshoorn streekhof nege jaar gevangenisstraf opgelê.
Die 31-jarige Morné Levendal was saam met Searle Swarts (32) en Daniel Levendal (34) daarvan aangekla dat hulle op 25/26 September 2022 te Russtraat, Oudtshoorn ’n Toyota Corolla van ’n buitelander gesteel en in St Saviourstraat ’n radio uit ’n Ford Lazer gesteel het. Die klagtes teen Swarts en Daniel Levendal is deur die staat teruggetrek nadat Morné Levendal skuldig gepleit het op albei klagtes.
Streeklanddros Sylvia Mandla het Levendal ses jaar tronkstraf opgelê vir diefstal van ’n voertuig en drie jaar vir diefstal vanuit ’n motorvoertuig.
Hy is ook onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit. (Deur Garnett Wicomb)