’N 47-jarige vrou van Middelplaas, De Rust, wat van moord op haar man aangekla was, is Dinsdag in die Oudtshoorn streekhof aan strafbare manslag skuldig bevind en vonnisoplegging is tot volgende maand uitgestel.
Streeklanddros Daniel Boks het bevind dat Karlien du Plessis nie die aand van 11 Februarie 2022 die opset gehad het om haar man, die 47-jarige Isaac du Plessis, dood te maak nie. Sy was besig om haar man se wyn te vernietig deur die plastiekbottel stukkend te steek toe hy wou keer en sy hom per ongeluk in die bors gesteek het.
Die hof het bevind dat sy nalatig opgetree het en haar aan strafbare manslag skuldig bevind.
Vonnisoplegging is op versoek van haar regshulpprokureur, Brian Carelse, vir proefbeampte- en korrektiewe-verslae tot 11 September uitgestel. (Deur Garnett Wicomb)