Staatstender-saak teen Rabie-egpaar in April hervat

Dawid Jacobs. Foto: Garnett Wicomb

Deur Garnett Wicomb
DIE verhoor van ’n egpaar van Oudtshoorn wat hulle glo met onwettige staatstenders verryk en begunstigdes benadeel het, is na die getuienis van nog vier staatsgetuies in die Oudtshoorn Streekhof tot Aprilmaand uitgestel.

Die staat beweer dat Marthinus Rabie, ’n voormalige tegnikus in diens van die Wes-Kaapse Departement van Landbou by die Oudtshoorn Proef­- plaas, sy vrou, Johanna, se twee beslote korpora­sies, Attaqua en Gwaiing Ontwikkelings, tussen 2006 en 2008 bevoordeel het met die toekenning van tenders.
Miljoene rande is by die saak betrokke.

Die hof het verlede week die getuienis aangehoor van Dac­lon Arries, voormalige voorsitter van die Matjiesrivier Kleinboerevereniging; kol Ste­phen Williams, ’n forensiese deskundige van die Polisie; Dawid Jacobs, ’n voormalige voorman by die Hoërskool Ladismith; en die ondersoekbe­amp­te, ao Kennedy.

Arries het getuig oor ’n pypleiding waarvoor hulle by die Department van Landbou aansoek gedoen het en die verskaffing van watertenks.

Hy was nie bewus aan wie die tenders toegeken is nie, maar dit was altyd Marthinus Rabie en nog twee amptenare van die Oudtshoorn Proefplaas wat teenwoordig was.

Hulle het Rabie net geken as die ingenieur van die departement. Hy was die persoon wat die watertenks aan lede verskaf het.

“Dit was nie altyd goed gereël nie en het tot ongelukkigheid onder die die lede van die vereniging gelei,” het Arries getuig.

Williams het getuig dat hy ’n aantal rekenaars van Rabie van die ondersoekbeampte ontvang het en data daarop op CD moes plaas.

Hy het getuig oor sekere datums wat nie verander kan word nie en die CD is as bewysstuk deur die hof aanvaar.

Jacobs het getuig oor 200 olyfbome wat Rabie by die Hoërskool Ladismith geplant het.

Hy het gesê hy het nooit Johanna Rabie daar gesien nie.

Hy het nie geweet aan wie die tender toegeken is nie en volgens hom het al die boompies doodgegaan omdat dit te klein was.

”Dit was eintlik plantjies en nie boompies nie. Dit was kleiner as penhoogte en moes ten minste 30 cm hoog gewees het.”

Volgens Jacobs het hy sy plig om die boompies nat te maak nagekom.

Die besproeiingstelsel wat aangebring is, was volgens hom nie ook nie effektief nie omdat al die boompies nie water gekry het nie.

Hy het self later groter boompies van die Departement van Landbou bekom en geplant en ook self die besproeiingsstelsel verstel sodat elke boompie water kon kry.

“Ek het geweet hoe dit gedoen moet word en die boord is vandag nog daar,” het Jacobs getuig.

Die beskuldigdes se regsverteenwoordiger, Gideon Badenhorst, het dit aan Jacobs gestel dat hy nie die waarheid praat nie.

Volgens Badenhorst sal Johanna Rabie getuig dat sy wel voortdurend op die perseel was terwyl die voorbereidingswerk en aanplanting van die olyfbome plaasgevind het.

Streeklanddros Daniel Boks het na die getuienis van die ondersoekbeampte die saak vir verdere verhoor tot 10 April 2019 uitgestel.