Staat sluit saak teen Calitzdorp man

Die saak teen Adrian Gerber (29), van Royal Heights, Calitzdorp, is in die Oudtshoorn streekhof tot 27 Januarie 2023 uitgestel vir voortsetting nadat die staat sy saak gesluit het.

Gerber ontken skuld, nadat hy van die moord op Elrico Booysen aangekla word.

Volgens Gerber was Booysen die aand van 21 September 2018, met sy aankoms sterk onder die invloed van drank, en het geval nadat hy op hout en bierbottels gegly het, en sy kop sywaarts teen ’n muur en later weer met sy kop op ’n sementblad beland.

Die staat voer aan dat Gerber vir Booysen met ’n spanhoutjie oor sy kop geslaan het. Booysen is later in die Grootte Schuur hospitaal aan sy beserings oorlede.

’n Buurman, Francois Kloppers, het getuig dat hy laataand voor sy huis gesit en drie harde slae gehoor het. Toe hy opkyk het hy gesien hoedat Gerber vir Booysen met die vierde hou oor sy kop slaan.

Gerber voer aan Kloppers kon nie van sy huis sien af sien wat gebeur het nie.

Volgens hom het hy en die oorledene saam met nog vriende die betrokke aand gekuier en gebraai toe Cindy-Lee, die oor-ledene se vriendin, se ekskêrel daar stilgehou en gevra het of hy kan saamkuier.

Sy het nee gesê en die huis ingestap, waarna Booysen agterna is omdat hy, volgens Gerber, “baie kwaad” was. Dit is toe dat hy gly en val.

“Elrico was “uit” vir ’n oomblik en ek en Rachelene April het hom op ’n stoel gehelp. Hy het toe weer van die stoel geval en iemand het die ambulans gebel omdat hy nie gereageer het nie,” het Gerber getuig.

Die staatsaanklaer, Mervin Saaiman, het Gerber gevra waarom hul ’n bewustelose man op ’n stoel laat sit, en nie op ’n bed of die grond laat lê nie, waarop hy geantwoord het dat hy nie op daardie oomblik daaraan gedink het nie. Hy het ook nie enige beserings aan die oorledene se liggaam gesien nie.

Saaiman het aan Gerber gesê sy weergawe maak nie sin, omdat die oorledene nie die erge kopbeserings kon opgedoen het deur net te gly en teen ’n muur en weer agteroor te val nie.

Streeklanddros Ntsoki Moni wou op haar beurt van Gerber weet hoe die oorledene se skedel so erg kon gekraak het soos die mediese verslag aangedui het.

Rachelene April het Vrydag onder kruisverhoor klei getrap in haar verduideliking oor wat met Booysen gebeur het.

Sy het in haar verklaring aan die polisie gesê dat sy nie gesien het teen wat Booysen val nie, maar in die hof net soos die beskuldigde, getuig dat sy wel gesien het.

Sy het selfs gedemonstreer hoedat die oorledene geval het. Volgens haar het sy nie enige beserings aan Booysen gesien nie en het die ondersoekbeampte nie alles neergeskryf wat sy vir hom gesê het nie.

Sy het ook nie gesien hoedat Booysen die tweede keer geval het nie omdat sy met haar rug na hom gestaan het.

Saaiman het dit aan April gestel dat sy haar getuienis fabriseer om haar kêrel, die beskuldigde, te beskerm

Martin Green verskyn namens die beskuldigde, sy borgtog en borgvoorwaardes is verleng. (Deur Garnett Wicomb)