DIE saak teen die bestuurder van die BMW waarin Marelize Nortier (18) van Oudtshoorn op 22 September 2019 gesterf het, is verlede week in die Oudtshoorn Landdroshof vir pleitonderhandelinge met die staat tot 14 Mei uitgestel.
Sydney Berry (23) van George staan tereg op klagtes van strafbare manslag, alternatiewelik roekelose of nalatige bestuur, en versuim om by ’n ongelukstoneel hulp te verleen.
Die motor waarin Nortier ’n passasier was, het die betrokke aand tussen Oudtshoorn en die Kango Grotte die pad verlaat en in ’n watervoor beland. Berry het glo die toneel verlaat en later weer teruggekeer.
Nortier was steeds in die voertuig vasgegordel toe dit ure later uit die water gesleep is. ’n Nadoodse ondersoek het bevind dat sy verdrink het.
Die saak dien voor landdros René Gerber.
Berry, wat deur Bulelani Bans van Dercksen Prokureurs bygestaan word, is uit op waarskuwing. (Deur Garnett Wicomb)