HY was ’n man wie se hande vir niks, voorwaar niks, voor die kospotte verkeerd gestaan het nie.
Jaco Matthee (44) wat Maandagoggend in die Mediclinic Klein Karoo op Oudtshoorn oorlede is, was ’n bekende chef in Oudtshoorn en die Suid-Kaap, en ’n man wat oor die jare baie harte gelukkig gemaak het met sy voortreflike kos.
Volgens sy vrou, Liandri, is Jaco in Januarie met kanker van die kolon gediagnoseer wat versprei het. Sy toestand het die laaste tyd erg verswak hoewel hy die laaste maande behandeling daarvoor ontvang het. Hy het tot die Maandag voor sy dood behandeling in die Mediclinic George ontvang, maar is ontslaan en die volgende dae by die huis deur haar en sy ma, Bets Matthee, verpleeg omdat hy gevra het om nie alleen te sterf nie.
Die laaste dae van sy lewe het sy toestand egter so verswak dat hy in die Mediclinic Klein Karoo opgeneem is.
Liandri vertel dat haar man aanvanklik ingenieurswese gestudeer het, maar dat hy toe hy as jong man oorsee was, sy eintlike passie in die lewe ontdek het. “Sy passie was kos en hy het besluit om daarin te gaan studeer.
Die res is geskiedenis.”
Matthee was oor die jare by verskeie restaurante betrokke, soos The Black Swan en Cape to London op Oudtshoorn, hy het spyseniering gedoen, restaurante gehelp met hul spyskaarte, en oor die jare verskeie koskompetisies beoordeel. Hy en Dawie Theron se suksesvolle Boston Boys-stalletjie is by die 2018-KKNK as die fees se beste kosstalletjie aangewys. Volgens Liandri het die George Farmers Market waar hy ook in ’n stadium ’n stalletjie gehad het, hom op ’n dag laat weet dat sy hamburgers aangewys is as die beste in die Suidelike Halfrond; glo deur ’n man wat van land tot land gereis het om hamburgers te beoordeel.
Hy word oorleef deur Liandri, twee dogters, Chrisli (15) en Anke (14) en sy ma, Bets Matthee, (Deur Liesel le Roux)
Bekende chef van Oudtshoorn sterf
Jaco Matthee. (44) Foto verskaf