Van die ongelukkige hofgangers vanoggend voor die Oudtshoorn Landdroshof. Foto: Garnett Wicomb
Deur Garnett Wicomb
Die saak teen die vier verdagtes in die Preston Titus-moordsaak kon nie vanoggend voortgesit word nie omdat een van die vier verdagtes siek is.
Louise Luterek, regsverteenwoordiger van Masithembe January, ook bekend as “MJ”, het die hof meegedeel dat hy Maandagaand siek geword het en ‘n dokter moes besoek. Hy is steeds olik en kon nie vandag se hofverrigtinge bywoon nie. Sy het die hof om uitstel gevra en dit is deur regter Nolwazi Boqwana toegestaan.
Die verhoor sou vandag voortgaan met die getuienis van ao Anna-Marie van Niekerk, wat spesialiseer in die ontleding van selfoonrekords.
Van Niekerk het het die hof Maandag ingelig oor die selfoonkommunikasie tussen die vier beskuldigdes voor die hof, Justice Mooi, Magdaleen Titus, Natasha Stuurman en Masithembe January, sowel as ene Elvis Galeboe, wat nie ‘n verdagte is nie, in die maand voor die soldaat se moord op 1 Desember 2017.
Sy het nie gesê waarom sy Galeboe se selfoonrekords geanaliseer en waarom dit van belang is nie.
Binne die maand ter sprake is altesaam 338 oproepe vanaf Magdaleen Titus se selfoon na haar mede-beskuldigdes gemaak.
Daar was die aand van die moord verskeie oproepe vanaf Titus se foon na Mooi, January en Klip.
Die rekords toon aan dat oproepe vanaf Titus se selfoon in die omgewing van die selfoonbasis by die Seppie Greeff-gebou in die middedorp gemaak is na die selfoon van Mooi wie se selfoonrekord aandui dat hy hom in die weermagbasis bevind. Verskeie SMS-boodskappe is die aand van die moord ook vanaf Titus se selfoon na dié van Klip gestuur en omgekeerd.
Hofgangers wat reeds vroeg hul plekke in die hofsaal ingeneem het was duidelik ongelukkig oor die uitstel van die saak. Volgens hulle begin January nou die druk te voel, veral na die getuienis van die selfoonanalis.