Preston Titus-moordsaak: Deskundige getuig oor verdagtes se selfoonrekords

Magdaleen Titus verlaat die landdroshof. Foto: Garnett Wicomb

‘n Selfoonrekord-analis van die polisie het vandag ‘n breedvoerige uiteensetting gegee van die kommunikasie tussen die beskuldigdes in die Preston Titus moordsaak. Vandag was die aanvang van die derde week van verhoor van die saak in die rondgaande hooggeregshof op Oudtshoorn.

Ao Anna-Marie van Niekerk, wat ook in die Jason Rhode-moordverhoor en die Hannah Cornelius-moordsaak getuig het, het haar getuienis begin met ‘n verslag van verskeie hoëprofiel-hofsake waarin sy getuig het en wat gelei het tot skuldigbevindings die afgelope elf jaar.

Sy is by die Titus-saak betrek op versoek van kapt Deon Bouwers van die ondersoekspan, het sy op ‘n vraag van die staatsaanklaer, adv Christhénus van der Vijver, geantwoord.

Volgens Van Niekerk word selfoonrekords van diensverskaffers aangevra om ‘n beskuldigde met die misdaad te verbind, maar kan dit ook ‘n persoon se onskuld bewys. Sy het breedvoerig getuig oor die selfoonkommunikasie vanaf 1 November 2017 tot 1 Desember 2017 tussen die vier beskuldigdes voor die hof, Justice Mooi, Magdaleen Titus, Natashia Stuurman en Masithembe January, ook bekend as “MJ”, sowel as ene Elvis Galeboe, wat nie ‘n verdagte is nie,

Sy het nie gesê waarom sy Galeboe se selfoonrekords geanaliseer het en waarom dit van belang is nie.

Volgens Van Niekerk was daar selfoonkontak tussen Magdaleen Titus en Galeboe vanaf 4 November tot 28 November 2017.

Die eerste kommunikasie tussen Magdaleen Titus en Justice Mooi, een van die vermeende huurmoordenaars, in die maand ter sprake, was op 16 November 2017 en die laaste op 1 Desember; tussen Titus en Natasha Stuurman vanaf 3 November tot 1 Desember en met Sixabiso Klip tussen 1 November en 1 Desember 2017.

Daar is binne die maand altesaam 338 oproepe vanaf Titus se selfoon na haar mede-beskuldigdes gemaak.

Van Niekerk het dit egter ook duidelik gestel dat oproepe wat op ‘n persoon se selfoonrekord aangedui word, nie noodwendig net deur die eienaar gemaak is nie. Sy het getuig dat baie van die aktiverings, oproepe en sms’e op 30 November en 1 Desember 2017 plaasgevind het.

Daar was die aand van die moord verskeie oproepe vanaf Magdaleen Titus se foon na Justice Mooi, Masithembe January en Sixabiso Klip. Die rekords toon oproepe aan vanaf Titus se selfoon in die omgewing van die selfoonbasis by die Seppie Greeff-gebou in die middedorp na die selfoon van Mooi wie se selfoonrekord aandui dat hy hom in die weermagbasis bevind. Verskeie sms-boodskappe is die aand van die moord ook vanaf Titus se selfoon na die van Klip gestuur en omgekeerd.

January was die betrokke aand saam met Natasha Stuurman in Beaufort-Wes.

Klip was eers vanoggend vlugtig in die hof om te bevestig dat dit sy voorletters en handtekening is wat op ‘n verklaring verskyn wat hy op 19 Januarie 2018 by die polisie afgelê het, dieselfde dag wat Magdaleen Titus in hegtenis geneem is.

Regter Nolwazi Boqwana het die saak tot Dinsdag verdaag wanneer Van Niekerk met haar getuienis sal voortgaan.