’N PASTOOR van Dysselsdorp is in die Oudtshoorn Streekhof op drie klagtes van verkragting skuldig bevind.
Freddy Jaftha (48) is aangekla van die verkragting van ’n 18-jarige tweeling in 2017 en 2018. Hy het onskuldig gepleit en ontken dat hy aan hulle sou gesê het dat dit die Here se wil is sodat hulle gesond kan word.
Volgens hom het die twee susters gereeld op versoek van hul moeder vir bidsessies na hom gekom en het hy nooit seksueel met hulle verkeer nie.
“Dis ’n opgemaakte storie” het hy gesê.
Die staatsaanklaer, adv Michelle Weyers, het die hof vir skuldigbevinding gevra omdat Jaftha nie die hof in sy vertroue geneem het nie en sy weergawe voortdurend aangepas het.
Sy vrou het volgens haar ook alles probeer om hom te beskerm.
Volgens Jaftha se regsverteenwoodiger, adv Steven Lourens, is daar gebreke in die staat se saak en behoort die beskuldigde die voordeel van die twyfel te kry.
Volgens Lourens het die bidsessies plaasgevind terwyl die beskuldigde se vrou altyd net buite die kerk voor haar kombuisdeur gesit het en alles kon hoor wat binne die kerk aangaan.
Sy was die kerk se jeugleier en die tweeling het nooit by die haar oor enigiets gekla nie.
Streeklanddros Daniel Boks het in sy uitspraak gesê die getuienis van Jaftha en sy vrou kan met veiligheid as vals en leuenagtig verwerp word.
“Die kinders het ’n kronologiese uiteensetting gehad van wat met hulle gebeur het en hulle het geen rede gehad om hul kerkleier valslik te blameer nie.”
Albei het getuig dat die beskuldigde hulle eers met olyfolie gesalf, hande opgelê en soutwater laat drink het voor sy dade met hulle.
“Waarom sal die klaers die beskuldigde valslik beskuldig as hulle goed met mekaar oor die weg gekom het?
“Daar was ’n goeie verhouding tussen hulle en hul geestelike vader,” het die landdros gesê
“Die beskuldigde se vrou het ook nie omgegee om vals te getuig om hom te beskerm nie.” (Deur Garnett Wicomb)