Ladismith se eie Rembrandt groei in statuur, en van krag tot krag in sy kuns

Algernon Kennel se selfportret van hom en sy vrou, Andriette. Foto verskaf

’n Skets van die polisie­be­amp­te Sanet Salmon se seun.

“GROOT talent wat in ons kleine plekkie wegkruip”. Dit is die woorde waarmee ’n polisie­beampte van Ladismith, Sanet Salmon, vir Algernon Kennel beskryf nadat hy ’n potloodskets van haar seuntjie voltooi het.

Die 38-jarige Kennel is ’n plaaslike kunstenaar wat by een van die kaasfabrieke in Ladismith werksaam is, en in sy vrye tyd sy eintlike talent beoefen.

Kennel sê hy het 2015 sy mentor, Anthony Noble van George, toevallig by die plaas­like Lutherse Kerk ontmoet. Noble het van sy sketse gesien en aangebied om hom van skilderdoeke te voorsien.

“Hierna het ek gesien hoe my werk vorder en mense van my begin bewus raak,” sê die ne­derige kunstenaar.

Die Hoorn het vroeër vanjaar oor Kennel berig en hy het sedertdien van krag tot krag gegaan.

“Anthony (Noble) en Warren Voight van Port Elizabeth, het my geleer om van ‘skintones’ gebruik te maak en sodoende meer diepte aan my sketse te gee,” sê hy.

Kennel sê ’n skets neem hom tussen ’n halwe dag en ’n volle dag, afhangend van die skofte wat hy werk. Hy is egter oortuig daarvan dat hy sy Godgegewe talent moet uitleef en ook belangstellende jongmense moet help om ook dié kuns aan te leer.

“Ek het geen opleiding by kunsskole gehad nie, maar glo soos dit in Markus 11:24 ge­skrywe is, dat alles wat ’n mens in gebed vra, moontlik kan word.”
Kennel sê hy put soveel bevrediging uit sy werk dat hy nog nie besluit het om dit ’n winsgewende besigheid te maak nie.

“Tans wil ek net eers al die eer aan my Hemelse Vader opdra.”

Hy sê dat mense van buite Ladismith van sy kuns by fa-milielede sien en dan ’n afspraak maak om ’n skets van hulle te laat maak.

So hang van sy sketse al sover as Johannesburg en Kaapstad in die huise van mense.

“Ek put groot bevrediging uit mense se opgewondenheid of verbasing wanneer hulle die finale produk sien. Ek sal voortgaan met my sketse vir solank as wat die Vader my gesond hou, selfs al sou ek net natuurtonele doen,” sê Kennel terwyl hy met bevrediging na ’n skets van hom en sy vrou kyk. (Deur Deon Meyer)