Met die eindeksamen wat om die draai is, is matriekleerders van Oudtshoorn besig met hul laaste voorbereidings vir die belangrikste tyd van hul skoolloopbaan.
Onderwysers moedig leerders aan om hierdie laaste weke doelgerig aan te pak deur ’n realistiese leerrooster te volg en elke dag tyd vir hersiening in te bou. ’n Stil leeromgewing en gereelde breuke help om beter te fokus en moegheid te voorkom.
Dit is veral nuttig om ou vraestelle deur te werk om vertroud te raak met die manier waarop vrae gestel word en om binne die tyd te oefen. Leerders word ook aangeraai om met kleurvolle opsommings en kaarte te werk om inligting makliker te onthou.
Met die warm weer wat reeds in die Klein Karoo begin intree, word leerders daaraan herinner om genoeg water te drink en koel te bly terwyl hulle studeer.
Kenners beklemtoon dat leerders nie skaam moet wees om hulp te vra as hulle met sekere vakke of afdelings sukkel nie. Hulp van onderwysers, klasmaats of ouers kan dikwels ’n groot verskil maak in begrip en selfvertroue.
Hoewel die druk groot is, is dit ook ’n tyd om trots te wees op die harde werk wat oor die jare gedoen is.
Die nasionale eindeksamens begin op 21 Oktober en duur tot einde November. (MALISSA SPIES)
Oudtshoorn-matrieks tref laaste voorbereidings vir eindeksamen
Bo: Kieter en Kat het self ’n besige en rowwe matriekjaar agter die rug en is tans baie hard aan die voorberei vir die finale matriekeksamen.
Kieter en Kat dink aan almal wat hierdie 4de kwartaal eksamen skryf, en wens elke leerder, veral vir die Klein Karoo matrieks sterkte toe vir die laaste stukkie van hul skoolloopbaan.
Strokiesprent: Janien Müller