
Jacques Thomas du Preez (55) is skuldigbevind op twee klagte van diefstal en een klagte van bedrog. Hy is tot vyf jaar gevangenistraf gevonnis.
’N VOORMALIGE prokureur van Oudtshoorn, Jacques du Preez, is Vrydag deur die Direktoraat vir Prioriteitsmisdaadondersoek (die Valke) in hegtenis geneem nadat hy versuim het om vir gevangenistraf aan te meld.
Du Preez (55) is in November 2015 in die Oudtshoorn Streekhof skuldig bevind aan diefstal en bedrog nadat hy twee bedrae uit ’n skadevergoedingseis wat geoormerk was vir ’n gestremde kliënt van hom onttrek het. Hy is tot vyf jaar gevangenisstraf gevonnis.
Volgens kapt Lloyd Ramovha, woordvoerder van die Valke, het Du Preez R325 0000 en R54 300 wat in sy prokureursfirma se trustrekening inbetaal is, onttrek en na ’n persoonlike rekening oorbetaal het.
Du Preez het teen sy skuldigbevinding geapelleer, maar sy appèl is in Oktober 2016 in die Kaapse Hooggeregshof van die hand gewys.
Ramovha sê Du Preez het hierna nie op telefoonoproepe en boodskappe van die Valke gereageer nie.
Hy is Vrydagoggend op Oudtshoorn in hegtenis geneem nadat sy voertuig deur ’n lid van die polisie opgemerk is.
• Du Preez het in 2010 en 2011 namens Peter Brandon Hendricks in ’n skadevergoedingseis teen die minister van onderwys opgetree.
Hendricks het in 1999, gedurende sy matriekjaar aan Bridgton Senior Sekondêr, van ’n trapleer afgeval toe hy in opdrag van ’n onderwyser ’n rugbypaal geverf het.
Hy is deur die ongeluk verlam gelaat en het breinskade opgedoen.
Die minister het deels skuld beken aan die voorval en die bepaling van die bedrag wat uitbetaal sou word, is uitgestel. Du Preez het intussen namens Hendricks ’n tussentydse betaling van die departement geëis waarna die departement ’n voorskot van R500 000 in sy firma se trustrekening inbetaal het.
Du Preez het op 30 Maart 2011 in ’n brief wat gerig was aan die kurator wat die hof aangestel het om namens Hendricks op te tree, adv Lourens Joubert van George, erken dat hy vir Joubert die indruk kon gegee het dat die geld namens Hendricks in ’n rentedraende rekening belê is.
Hy het voorts nie toestemming van Joubert gehad om enige fondse te onttrek vanuit die tussentydse betalings nie.