Deur Garnett Wicomb
DIE saak teen die voormalige ontvangsdame van ’n gastehuis op Schoemanshoek wat van bedrog en alternatiewelik diefstal aangekla word, is Dinsdag in die Oudtshoorn Streekhof vir voortsetting van verhoor tot volgende maand uitgestel nadat sy nuwe regsverteenwoordiging gekry het.
Emmerentia Weyngardt (33) staan tereg op drie aanklagte van bedrog, alternatiewelik diefstal, van meer as R557 000 van Wolfgang Beits, eienaar van die Montana Gastehuis op Schoemanshoek. Sy pleit onskuldig op al die aanklagte.
Adv Ezra Morrison, die nuwe regsverteenwoordiger vir Weyngardt. Twee vorige prokureurs het hulle aan die saak onttrek.
Die saak dien voor streeklanddros LA Wilkens, maar dit is in sy afwesigheid deur streeklanddros Ntsoki Moni tot 15 Mei 2019 uitgestel.