Landdros weier pleitverduideliking

Deur Garnett Wicomb
Die saak teen ’n man van Oudtshoorn wat van winkeldiefstal en roof met verswarende omstandighede aangekla word, is in die Oudtshoorn Streekhof uitgestel nadat die landdros nie te vinde was vir sy pleitverduideliking nie.

Christiaan Maxim het skuldig gepleit op die twee klagtes van diefstal nadat hy biltong ter waarde van R271 by Shoprite en twee bedoortreksels ter waarde van R359 by Pep Stores gesteel het.

Hy het egter onskuldig gepleit op ’n klagte van roof met verswarende omstandighede vir die diefstal van ’n boks sjokolade ter waarde van R324 by Oudtshoorn-Wes Handelshuis waar hy ook ’n winkelassistent met ’n bottelnek gedreig het.

Streeklanddros Ntsoki Moni het gesê sy kan nie Maxim se pleitverduideliking op ’n klagte van diefstal en aanranding vir die voorval by Wes Handelshuis aanvaar nie omdat dit nie een klagte kan wees nie. Volgens haar is dit twee verskillende klagtes wat beteken dat Maxim moet tereg staan op altesaam vier aanklagte.

Sy het die saak tot 26 April uitgestel en Maxim se regsverteenwoordiger, Wenzel Botha, versoek om hieroor te besin en ’n nuwe pleitverduideliking op te stel.