Karooparkers ontsteld oor moontlike borg

Deur Angelique Erasmus
DIE vermeende brandstigter, Sonja Louw, was volgens hofstukke meer as twee keer weer by Karoopark Aftreeoord wat sy ingevolge haar borgvoorwaardes nie mag besoek nie.

Louw het Maandagoggend vlugtig in die Oudtshoorn Landdroshof op aanklagte van brandstigting en poging tot brandstigting voor landdros Roelf Konstabel verskyn.

Die staat het aangedui dat hulle met haar volgende verskyning aansoek gaan doen om haar borg in te trek, terwyl adv Benito Metembo ’n aansoek gaan bring om haar borg­voorwaardes te wysig, onder meer so­dat sy weer toegang tot Karoopark kan kry. Louw word nou verteen­woordig deur Mtembo nadat sy haar vorige prokureur die trekpas gegee het.

Agt van Karoo Park se inwoners het die hofsitting bygewoon om volgens die staatsaanklaer, Leonie van Rooyen, teen Louw te getuig nadat sy volgens hofstukke meer as twee keer weer by die aftreeoord was waar van die brandstigtingsvoorvalle plaasgevind het. Die inwoners was duidelik ontsteld toe hulle gehoor het van die moontlike wysiging van die borgvoorwaardes.

Die saak is uitgestel tot 13 Februarie 2019.