Hof wag steeds op psigiatriese verslag vir vonnis

Man vas vir kinderverkragting

Deur Garnett Wicomb
DIE vonnisoplegging van ’n man (35) van Oudts­hoorn wat aan kinderverkragting skuldig bevind is, moes die week weer in die streekhof uitgestel word omdat ’n psigiatriese verslag nog nie beskikbaar was nie.

Willem Boshoff het tussen 2011 en 2014, terwyl hy die oppasser was van sy vriendin se kind, verskeie kere met haar gemeenskap gehad. Sy was ten tye van die eerste voorval agt jaar oud.

Die voorvalle het in die huis van sy ouma op Oudtshoorn en die huis van sy vriendin op Dysselsdorp plaasgevind. Sy algehele ontkenning en verweer dat hy sekere voorvalle nie kan onthou nie, is deur streeklanddros Daniel Boks verwerp.

Die kind se getuienis is as geloofwaardig bevind.

Vonnisoplegging is tot 20 Augustus uitgestel. Boshoff is in aanhouding.