Groot taak vir Familie in Fokus

Landre Januarie (agter, tweede van regs), saam met personeel en kleuters van die Neppon Enrichment Centre, wat ook papbestanddele, suiker en melk van Familie in Fokus kry. Foto: Garnett Wicomb

DIE projekbestuurder van die Southern Cape Family in Focus Movement (FIF), Landre Januarie, het verledeweek sy dank uitgespreek teenoor Joint Aid Management (JAM), vir hul deelname aan die Oudtshoorn Familie in Fokus-program.

Volgens Januarie het JAM vir ’n lang tyd weekliks papbestanddele, melk en suiker voorsien aan Familie in Fokus totdat hulle in Augustus 2021 kennis gegee het dat hulle dit nie meer sal kan doen nie.

Januarie vertel: “Ons was natuurlik baie teleurgesteld want ons gee elke dag vir 592 kinders wat in die FIF-program is ’n bakkie pap, en die ouers het lekker saamgewerk met ons ouerwerkswinkels wat vrugte afgewerp het.

Maar soos die gesegde lui: ‘As die een deur toeklap gaan ’n ander oop’.”

Ten spyte van die terugslag het hulle aangehou om papbestanddele uit te deel. “Terwyl ek eendag besig was met tuisbesoeke het ek ’n oproep ontvang van die direkteur van Western Cape Foundation for Community Work (FCW), dr Riedwaan Allie.

Hy het vir my gesê dat hulle begin het met ’n voedingskemaprogram in die Kaap en my gevra of ons bereid sou wees om elke dag pap uit te deel aan huishoudings in ons gemeenskap wat sukkel om kop bo water te hou.

“Ek het nie tweekeer gedink nie en onmiddellik gesê, ‘met liefde’,” vertel Januarie.
“’n Week later kry ons 12 bokse grondboontjiebotter, 86 x 10 kg mieliemeel en 40 x 5 kg sakke oats met 3 x 10 kg suiker en melk.

“Hierdie aflewering word nou elke maand gedoen. In sommige gebiede waar ons werk gaan dit maar moeilik in mense se huise.

Dan verstaan ek hoekom die kind vir ’n dag of week nie skool toe gaan nie, want daar is geen kos by die huis nie. In baie gevalle werk die ma en pa nie en dan is dit net die Sassa-toelae.

“My hart het so seer geraak tydens een van ons besoeke. Toe ons by een van die wonings kom en vir ’n driejarige kind vra waar haar moeder is het sy geantwoord: ‘Mammie is gou tiep toe om iets te gaan soek om te eet’. Net daar het ek besluit om elke dag ekstra pap in te sit sodat hulle iets het om te eet.”

Volgens hom het hulle groot planne vir die toekoms. “Ons beplan om twee skeepshouers as kombuise in te rig en elke dag pap, sop en brood uit te deel sodat ouers en kinders ten minste elke dag ’n maaltyd kry.”

Januarie sê hy is groot dank verskuldig aan die Western Cape Foundation for Community Work dat hulle Familie in Fokus deelgemaak het van hul voedingskema.

Januarie kan vir enige navrae of bydrae gekontak word by 072 382 2460 of te Bella Rosa Singel 163, Neppon, Toekoms rus, by die Neppon Enrichment Centre. (Deur Garnett Wicomb)