“Eye believe in Reuben”: ’n Jaar later

Die Terblanche gesin, Basson, Chrisna, Jacques en Reuben. Foto verskaf.

Presies een jaar nadat ʼn fratsongeluk sy lewe drasties verander het, staan die byna twaalfjarige Reuben Terblanche vandag as ’n bewys van deursettingsvermoë, mediese kundigheid en gemeenskapsondersteuning.

Reuben het op 1 Maart 2025 ’n ernstige oogbesering opgedoen toe ’n vreemde voorwerp hom in die oog getref het. Die besering was lewensveranderend, sy kornea is in twee gesny, sy lens ver- nietig en dele van sy retina het losgeskeur. Wat gevolg het, was ’n reeks dringende operasies en ’n lang pad van herstel.

Sy eerste operasie is reeds op 3 Maart 2025 deur oogchirurg dr. Frik de Jager uitgevoer, waartydens dele van die beskadigde lens verwyder en die kornea geheg is. ’n Tweede operasie het op 13 Maart gevolg toe retina-spesialis dr. Johannes Meyer die oorblywende lens verwyder en die retina met laser op verskeie plekke herstel het.

Die gesin het daarna ’n konsultasie by kornea-spesialis dr. Mark Attenborough bygewoon, maar besluit om nie met die kornea-oorplanting voort te gaan nie, aangesien dit moontlik sou beteken dat Reuben nooit weer kontaksport sou kon speel nie.

’n Lang wagtyd het gevolg terwyl die oog moes genees en sy steke later verwyder is. Gedurende hierdie tyd het die Terblanche-gesin die “Eye believe in Reuben”-veldtog begin en spesiale sokkies verkoop om fondse in te samel vir voortgesette behandeling en opvolgafsprake.

“Die reaksie uit die gemeenskap was oorweldigend, sokkies is gedra, boodskappe gestuur en klein gebare van liefde het ons gesin deur die moeilike maande gedra,” vertel Reuben se ma Chrisna.

’n Belangrike deurbraak het op 8 Oktober 2025 gekom toe Reuben ’n lensvervangingsprosedure ondergaan het wat suksesvol was. Hoewel die besering ’n permanente ernstige astigmatisme veroorsaak het, het verdere behandeling nuwe hoop gebring.

Optometris Jaco Kriek het Reuben daarna met ’n sklerale lense toegerus. Ná ’n reeks aanpassings en opvolgbesoeke het Reuben tydens sy laaste afspraak ongeveer 90% sig in die beseerde oog.

“Vandag, ʼn jaar later, kyk ons terug met diepe dankbaarheid. Ons bring spesiale hulde aan elke persoon wat ons ondersteun het – deur sokkies te koop, boodskappe te stuur, geskenke te bring of eenvoudig in te loer,” sê Chrisna.

Hul bedank ook graag elke dokter, spesialis en mediese kenner wat Reuben gehelp, bygestaan en ondersteun het.

Met die eerste herdenking van die ongeluk op 1 Maart 2026, sê die gesin Reuben se pad vorentoe sluit steeds opvolgafsprake en moontlike verdere behandeling in, maar sy herstel tot dusver gee rede tot hoop.

“Die vyand het probeer steel,” vertel die gesin, “maar Reuben het vir ons gewys hoe Liewe Jesus alles ten goede kan laat uitwerk,” sluit hul af.

Volgens die gesin bly die boodskap agter hul veldtog dieselfde: “Eye believe in Reuben”. (ANGELIQUE ERASMUS)