
Deur Garnett Wicomb
DIE verhoor van drie mans wat daarvan aangekla word dat hulle in 2017 ’n supermark op Van Wyksdorp van derduisende rand en sigarette asook ’n selfoon en skootrekenaar van die eienaar beroof het, is Maandag in die Oudtshoorn Streekhof na die getuienis van die klaer vir verdere getuienis uitgestel.
Die rooftog op Vrydag 23 Junie 2017 het destyds skokgolwe deur die Klein Karoo gestuur nadat die gewapende rowers met die Ford Ranger van die eienaar van die Twaksak Restaurant, George van Tonder, en hul eie Hyundai-bussie weggejaag het. Hulle is deur die polisie van Ladismith agternagesit terwyl hulle die polisie van Laingsburg, waarheen die voertuie op pad was, in kennis gestel het.
’n Skietery het gevolg en twee van die mans in die bussie het gesterf toe dit omgeslaan het.
Die drie verdagtes in die hof, Zuka Martin (30) van Cradock, Liberty Mpala (31) van Kuilsrivier en Malavine Simakade (29) van Langa staan tereg op sewe aanklagte – een van roof met verswarende omstandighede, een van diefstal van ’n motorvoertuig, een van die besit van ’n vuurwapen, drie van die besit van verbode vuurwapens en een vir die onwettige besit van ammunisie.
Van Tonder het Maandag getuig hoedat die vermeende rowers hom en sy personeel met kabelbinders vasgebind en sy vrou beveel het om die kluis oop te sluit.
Hy is met ’n vuurwapen teen die kop geslaan, vasgebind en die rowers het met sakke sigarette en kontant van tussen R260 000 en R270 000 gevlug.
Volgens Van Tonder sal hy nie die mans kan uitken nie. Een het ’n balaklawa oor sy kop gehad en die ander ’n wolmussie.
Hy kon wel sien dat die man agter die stuur van die Hyundai-bussie ’n groot en lang man was, soos een van die beskuldigdes in die hof.
Volgens hom kan hy nie alles in die fynste besonderhede onthou nie omdat dit so vinnig gebeur het.
Hy het ook nie ernstige beserings opgedoen nie.
Van Tonder het getuig dat die meeste van die geld teruggevind is, maar dat die rooftog baie traumaties was en sy personeel vandag nog bang is om alleen in die supermark te werk. Hy is ’n boer en kan nie aldag daar wees nie.
Volgens hom was die rooftog ook haarfyn beplan. “Hulle het hul huiswerk goed gedoen en alles het seepglad verloop,” het hy getuig.
Die saak word deur streeklanddros Retha Pretorius aangehoor en die drie verdagtes deur onderskeidelik Gideon Badenhorst, adv Benito Metembo en Eugene Roos van die regshulpraad verteenwoordig. Die mans bly in aanhouding.