BORGTOG is verlede week in die Oudtshoorn Streekhof geweier aan ’n man van Rose Valley op Oudtshoorn wat saam met drie ander daarvan aangekla word dat hulle op ’n buitelander geskiet en hom beroof het.
Fazel Tarentaal (22), Frank Tiemie (39), Wayne Menson (28) en Brian Okkers (25) word daarvan beskuldig dat hulle die aand van 18 Mei 2020 op Berhanu Mathewose, ’n spazawinkeleienaar, geskiet, hom aangerand en van R2 000 kontant beroof het.
’n 17-jarige vrou het vroeër getuig dat sy die betrokke aand saam met die beskuldigdes gekuier en gehoor het hoedat hulle beplan het om die winkel te gaan beroof.
Tarentaal se aansoek om borgtog is deur die ondersoekbeampte, ao Piet Hendricks, en die staatsaanklaer, Nadia Arnolds, teengestaan. Streeklanddros Daniel Boks het bevind dat dit nie in belang van geregtigheid sal wees om hom vry te laat nie.
Die saak word deur streeklanddros Ntsoki Moni aangehoor, en is vir voortsetting uitgestel tot 7 Julie 2022. Tiemie, Menson en Okkers is uit op waarskuwing. (Deur Garnett Wicomb)