Begin aanstelling van munisipale bestuurder van voor?

DIE aanstellingsproses van ’n munisipale bestuurder vir die Groter Oudtshoorn is glo tydelik stopgesit omdat dit “gekompromitteer” is.

Volgens Aurelia Mle, woordvoerder van die Groter Oudtshoorn Munisipaliteit, sal die burgemeester, Chad Louw, by die volgende raadsvergadering op 29 Junie verslag lewer oor wat gebeur het.

Die pos vir munisipale bestuurder is vroeër vanjaar geadverteer waarna ’n diensverskaffer ingevolge voorgeskrewe regulasies aangestel is om ’n kortlys saam te stel uit kandidate wat aansoek gedoen het.

Gerugte op die dorp dié week het egter geloop dat die aanstellingsproses tydelik gestaak is as gevolg van die inmenging van ’n raadslid of van raadslede by die proses. (Deur Liesel le Roux)