Baartman kry 12 jaar tronkstraf

’N 22-jarige MAN van Dysselsdorp wat ’n 65-jarige man met ’n klip doodgekap het omdat hy glo bang was die man verkrag hom, is verlede week in die Oudtshoorn Streekhof aan moord skuldig bevind en gevangenisstraf van 12 jaar opgelê.

Justin Baartman het erken hy het Klaas Campher op 23 Januarie 2020 in die veld naby Bokkraal verskeie kere met ’n klip gekap. Hy het die oggend gaan hout soek toe hy die oorledene raakloop waar hy onder ’n boom gesit het. Campher het vir hom ’n sigaret gevra waarna hy hom glo Bells-whiskey aangebied het.

Nadat hy klaar gedrink het wou die oorledene betaling daarvoor hê. Toe hy vra hoe, omdat hy nie geld by hom gehad het nie, het die oorledene glo gesê met seks en sy broek probeer aftrek. Toe hy weier, het die oorledene hom met ’n klip aangeval waarna hy ook ’n groot klip opgetel en die oorledene daarmee gekap het.

Baartman se regshulpprokureur, Wenzel Botha, het die hof versoek om af te wyk van die minimum vonnis van 15 jaar omdat daar buitengewone omstandighede is. Hy het die hof gevra om ’n korrektiewe vonnis te oorweeg omdat Baartman ’n eerste oortreder is en sy meisie en twee kinders hom by die huis nodig het om vir hulle te sorg.

Die staatsaanklaer, Brandon Smith, het nie saamgestem nie en gesê Baartman wou die hof met sy getuienis probeer mislei.

Streeklanddros Sylvia Mandla het Baartman se weergawe verwerp en die getuienis van kapt Marius Fourie van die De Rust Polisie en ’n ooggetuie, Hendrik van Hansen, as betroubaar aanvaar.

Sy het bevind Baartman se lewe was nie in gevaar nie. Sy het in ag geneem dat die moord nie beplan was nie, maar op die ingewing van die oomblik plaasgevind het.

“Al was die beskuldigde kwaad en geprovokeer kon hy ander stappe geneem het. Die foto’s voor die hof toon die genadelose aanval op die oorledene. Die gemeenskap moet teen mense soos Baartman beskerm word,” het die landdros gesê. (Deur Garnett Wicomb)