
Gordon April.
Deur Garnett Wicomb
ABSOLUTE verslaentheid en teleurstelling het vanmiddag in die Oudtshoorn Streekhof geheers toe die aansoek van oud-burgemeester, Gordon April, om teen sy skuldigbevinding en vonnis te appelleer van die hand gewys is.
Die uitspraak van streeklanddros Mark van Wyngaardt, wat die aansoek aangehoor en steeds met siekteverlof is, is deur streeklanddros Daniel Boks voorgelees.
Van Wyngaardt se uitspraak lui dat geen aspek tydens die verhoor van die lang uitgerekte saak oor- of onderbeklemtoon is nie en dat hy van mening is dat ‘n ander hof nie tot ‘n ander bevinding sal kom nie.
Die staatsaanklaer, Tommy Verreyne, wat verlof om te appelleer teengestaan het, het die hof meegedeel dat reëlings met die hooflanddros en die streekhofkoördineerder, JC Nortje, getref is dat die uitspraak in belang van geregtigheid skriftelik deurgegee word vir afhandeling.
Ten opsigte van die vonnis van nege jaar gevangenisstraf, effektiewelik vyf jaar, lui die landdros se uitspraak dat daar geen ongerymdhede was nie en dat die vonnis nie skokkend hoog is nie. “Daar is volgens my geen gronde dat ‘n ander hof tot ‘n ander bevinding sal kom nie en en word die aansoek van die hand gewys.
Familielede van April het verlede Woensdag voor die landdroshof betoog teen die vertraging weens die siekte van die betrokke landdros.
April is op 5 April gevonnis nadat hy aan die diefstal van sand en klip van die Oudtshoorn munisipaliteit, die onwettige gebruik van munisipale voertuie, intimidasie en poging tot regsverydeling skuldig bevind en effektiewelik tot vyf jaar gevangenisstraf gevonnis is.
Familielede het na vandag se uitspraak hul teleurstelling uitgespreek en aangedui dat hulle nie die saak daar sal los nie. Hulle oorweeg dit om die aangeleentheid nou na die hooggeregshof te neem.