’n MAN van Bongolethu is verlede Woensdag in die streekhof gevangenisstraf van agtien jaar opgelê nadat hy aan roof met verswarende omstandighede, diefstal en huisbraak met die opset om te steel, skuldig bevind is.
Die 32-jarige Warren Fortuin het op 14 November 2019 by ’n skool in Bongolethu ingebreek en ’n stel sleutels gesteel.
Op 2 Augustus 2020 het hy ’n paar Adidas-tekkies van ’n vrou gesteel en op 19 Februarie 2022 by die huis van Joyfull Douse ingebreek, haar met ’n mes gedreig en beroof van klerasie ter waarde van sowat R3 000.
Fortuin het onskuldig gepleit, maar sy getuienis is as onwaarskynlik bevind.
Die staatsaanklaer, Thuba Nyamate het die hof versoek om Fortuin vir lank tronk toe te stuur omdat hy nie ’n eerste oortreder is nie en vorige vonnisse hom nie tot ander insigte gebring het nie.
Fortuin se regshulpprokureur, Brian Carelse het die hof versoek om in ag te neem dat hy reeds ’n jaar in aanhouding is, ’n pa van drie kinders en ook werkloos is.
Streeklanddros Sylia Mandla het bevind dat daar wel wesenlike en dwingende omstandighede bestaan om af te wyk van die minimum vonnis van vyftien jaar vir roof met verswarende omstandighede.
Die vrou wat hy beroof het, het gelukkig vir die beskuldigde nie enige beserings opgedoen nie en ook haar eiendom teruggekry.
Hy toon egter geen berou nie en volgens Mandla moet die gemeenskap teen mense soos hy beskerm word.
Fortuin is op dié klagte van roof tot tien jaar gevangenisstraf gevonnis. Op die klagte van huisbraak met die opset om te steel het hy vyf jaar tronkstraf gekry en vir diefstal van ’n paar tekkies ook vyf jaar.
Die hof het gelas dat die vonnisse vir huisbraak en diefstal samelopend met die tien jaar vir roof uitgedien kan word vir effektiewe tronkstraf van tien jaar.
Fortuin is ook onbevoeg ver-klaar om ’n vuurwapen te besit. (Deur Garnett Wicomb)