Kay Faith (25), oftewel die oud-Struisie Karien Barnard. Foto verskaf
Deur Ilze-Mari Gründling
DIE 25-jarige Karien Barnard – ook bekend as Kay Faith – is vinnig besig om naam te maak in die hip-hop-bedryf as klankingenieur en musiekvervaardiger.
Karien wat in Knysna gebore is, het op Oudtshoorn grootgeword en is ’n oud-Struisie. Sy het in 2010 matriek aan die Hoërskool Oudtshoorn geskryf en daarna aan die Cape Audio College in Kaapstad studeer.
Sy het reeds saam met bekendes soos Nasty C, YoungstaCPT en Mos Def gewerk.
Karien vertel haar liefde vir musiek kom uit haar kleintyd. “Van kleins af het my ouer broer, Riaan, my blootgestel aan verskillende soorte musiek. Ek het altyd van hip-hop gehou. Dit het my cool laat voel. Nadat ek met Mos Def gewerk het, het ek besluit dit is beslis waar ek myself kan sien goed doen en het ek begin spesialiseer in hip-hop.”
Sy sê dit is elke keer spesiaal om met Nasty C, YoungstaCPT en Mos Def te werk. “Al drie van hulle het ek meer as een keer in my ateljee gehad. En ek kan elke keer presies onthou en ook wat gebeur het. Dit is wat my geïnspireerd hou.”
Karien sê dit is nie maklik om deel te wees van dié bedryf nie. “Die hip-hop-bedryf word oorstroom met mans en daar is nie baie vroue betrokke nie. Veral nie wanneer dit by verwerkings en produksie kom nie.”
Haar rolmodel is Missy Elliott, ’n Amerikaanse rymkletser, danser en musiekvervaardiger.
“Vroue het dit oor die algemeen moeiliker omdat ons dikwels in ’n ‘kaalvoet en swanger in die kombuis’-stereotipering geplaas word. Ek probeer altyd om stereotipes te verbreek.
“Baie mense twyfel aan my – totdat hulle my werk hoor! Dit is snaaks, soms voel dit asof die hip-hop-gemeenskap my baie meer ondersteun as my eie Afrikaanse gemeenskap.”
Karien sê ’n mens moenie toelaat dat ander jou keer om jou drome te bereik nie.
“Vroue is op geen manier minder werd as mans nie. As jy hard werk en glo in jou drome, sal dit waar word. Dit sal moeilik wees en jy sal partykeer jou stem moet dik maak en mense se nonsens sluk, maar hou uit en hou aan. Dit is hoe drome bereik word.”