Behind Two Jays wil pad oopsing

Janine Fourie en Johann Snyman verlede Woensdag tydens ’n optrede by Brian’s Grill.  Foto: Ilze-Mari Gründling

Janine Fourie en Johann Snyman verlede Woensdag tydens ’n optrede by Brian’s Grill.
Foto: Ilze-Mari Gründling

Deur Ilze-Mari Gründling
TWEE jongmense van die Suid-Kaap, Janine Fourie en Johann Snyman, is besig om hul pad oop te sing na bo. Janine is oorspronklik van Oudts­hoorn en Johann van George.

Hul staan bekend as Behind Two Jays, want albei se name begin immers met die letter “J”!
Hulle het verlede Woensdag met Die Hoorn gesels nadat hulle in Brian’s Grill op Oudtshoorn opgetree het.

Die twee het mekaar in Shenanigans op George ontmoet waar Janine op ’n keer opgetree het.
“My management het voorgestel dat ons saam sing – Janine het ’n great stem en ons werk goed saam,” sê Johann.

Hulle beskryf hul klank as folk-pop. “Ons hou daarvan om ’n kitaar of tamboryn in te bring. Ons hou van akoestiese musiek.” sê Janine.

Volgens Johann hou hulle albei baie van country-musiek en speel hulle verskeie instrumente.
“Ons probeer ’n country-skopenergie skep om country-musiek ’n bietjie meer lewe te gee. Ons kry ook baie van ons inspirasie van Nashville in Amerika – van onder meer die musiekfeeste wat daar plaasvind.

Musikante soos Lady Antebellum en Demi Lovato inspireer ons ook.”
Johann se gunsteling- instrument is die kitaar en Janine s’n die klavier.
Hul skryf ook saam liedjies. “Ons werk saam aan ons liedjies, anders kan ons nie ooreenstem nie. Die maklikste is om op ’n tema te besluit en dan vat ons dit van daar af.” vertel Janine.
Hulle hoop om eendag voltydse musikante te wees. “Dit sal ’n droom wees wat waar geword het,” sê Johann.

Behind Two Jays het in Oktober verlede jaar aan South Africa’s Got Talent deelgeneem, en sê hoewel hulle uitgeval het, was dit ’n besonderse ervaring.

“Ons was nie eens van plan om deel te neem nie. My meisie het alles gereël as ’n verrassing. Ons het agt ure gewag voordat ons op die verhoog kon gaan – maar dit was die wag werd!” sê Johann.
“Ek is bly ons het daar opgetree, al het ons dit nie gemaak nie. Dit is ’n een-keer-in-’n-leeftyd-ondervinding,” sê Janine.