DIE burgemeester van Kannaland, Magdalena Barry, verskyn volgende Donderdag (3 Mei) weer in die Ladismith Landdroshof op ’n klagte van aanranding.
Die hofsaak is op 17 Mei tot volgende week uitgestel.
Barry het na bewering ’n vrou op Saterdag 14 April na afloop van ’n ANC-vergadering in Amalienstein met ’n selfoon teen die wang geslaan.
Barry se woordvoerder, Ian Avontuur, het na die beweerde voorval die aantygings teen Barry in ’n sterk bewoorde verklaring verwerp en dit bestempel as deel van ’n veldtog om politieke onstabiliteit in die Kannaland Munisipaliteit te bewerkstellig.
• Sosiale media het ook die week gegons oor ’n besluit van die ANC se provinsiale uitvoerende komitee Maandagaand dat Barry en ook die onder-burgemeester van Kannaland, Phillipus Antonie, moet bedank.
Barry en Antonie is verlede jaar dissiplinêr deur die ANC verhoor oor die ANC in Kannaland se samewerking met die DA, ondanks teenstand van die ANC en die DA se provinsiale en streekstrukture.
Die Kannaland ANC sien klaarblyklik nie kans vir samewerking met Icosa en sy leier, Jeffrey Donson, ’n voormalige burgemeester van Kannaland, nie.
Die DA en die ANC in Kannaland het al voorheen ontken dat daar enige formele samewerking tussen hulle is.
Die ANC het voorheen ook al aangekondig dat besluit is dat die verhouding in Kannaland met die DA dadelik beëindig moet word.
Volgens Barry se woordvoerder, Ian Avontuur, is daar tans gesprekke tussen die provinsiale ANC, die burgemeester en die onder-burgemeester.