By die rioleringsvragmotor van Oudtshoorn is van links Danvor Sarelse, Richard Arries en Selwyn Goliath (Prins Albert Munisipaliteit, Patrick Komoetoe (sittend), Africa Williams, Eugene Matolla en Hendrik Kellerman (Oudtshoorn Munisipaliteit), die SKDM-burgemeester, Annelie Rabie, en onderburgemeester Linda Jaquet. Foto: Marlene Malan
Deur Marlene Malan
DIT gaan Prins Albert se munisipaliteit nagenoeg R14,5 miljoen kos om sy suigrioleringstelsel in ’n volledig ondergrondse stelsel te omskep.
So sê die munisipale woordvoerder, Anneleen Vorster. Die dorp is die naweek getref deur ’n stelsel wat oorloop, met geen suigtenkvragmotor beskikbaar nie. Die munisipaliteit se stokou vragmotor vir dié doel is al weke in ’n werkwinkel vir herstel, terwyl die bystandsvragmotor vroeg verlede week ook die gees gegee het.
’n Suigtenkvragmotor is Saterdagaand inderhaas van Oudtshoorn laat kom, deur die bemiddeling van die Wes-Kaapse minister van plaaslike bestuur, Anton Bredell, in samewerking met plaaslike raadslede, die munisipale bestuurder, Heinrich Mettler, en munisipale amptenare van Prins Albert en Oudtshoorn.
In dié stadium het ’n onwelriekende reuk oor die dorp gehang en het talle inwoners hulle tot sosiale media en WhatsApp-groepe van raadslede gewend om hul misnoeë uit te spreek.
Dis allesbehalwe die geval dat die munisipaliteit nie sy verantwoordelikheid nakom of nie omgee nie, het Vorster gesê. “Wat die naweek gebeur het, was the perfect storm. Alles het verkeerd geloop – tegelyk.”
Om die dorp se eie vragmotor te herstel, gaan volgens haar sowat R80 000 kos, en die bystandsvragmotor sowat R60 000.
Geen herstelwerk mag sonder tenderprosedures gedoen word nie, en werkwinkels sukkel om onderdele te kry weens die ouderdom van die voertuig. “Instandhoudingswerk word deurlopend gedoen, maar ons moet besef die vragmotors werk 18 uit 24 uur per dag.”
Vorster sê die raad het reeds gesprek gevoer oor die aankoop van nuwe vragmotors, en die langtermyn-opgradering van die rioolstelsel.
Linda Jaquet, onderburgemeester, het die Oudtshoorn Munisipaliteit vir hul “groothartigheid” bedank.