Deur Liesel le Roux
Daar is vandeesweek talle stories oor Oudtshoorn se water en die toestand van die Raubenheimerdam versprei wat doodeenvoudig nie waar is nie.
Oudtshoorn se water is nie byna op nie. Daar is ook nie net vir nog een maand water oor nie.
Daar is egter ernstige skade aan ’n betonpyp wat onderdeur die Raubenheimerdam loop wat tot groot skade en selfs lewensverlies kan lei as die herstelwerk nie omsigtig en met die grootste verantwoordelikheid en onder die leiding van kundiges gedoen word nie. As daar ’n fout begaan word en die pyp breek, kan die dam instort. Dan sit Oudtshoorn sonder water en sonder ’n dam.
Erger egter is dat werkers dan kan sterf. Dit is potensieel gevaarlike herstelwerk hierdie.
Nadat kundiges by die munisipaliteit die plaaslike pers Dinsdagoggend meer vertel het oor tegniese aspekte wat ’n invloed het op die herstelwerk, gewys het waar pype loop en waarvan dit vervaardig is, watter kleppe waar geleë is, en watter invloed verskillende aspekte op mekaar het, was dit duidelik waarom die lekplek nie ’n gaatjie is wat oorhaastig toegestop kon word nie.