Nee vir ‘cadre deployment’
Oudtshoorn moes nou weer vir die hoeveelste keer afskeid neem van hul munisipale bestuurder, mnr Walter Hendricks. Hy, soos sy voorgangers, het ’n pos by ’n ander munisipaliteit aanvaar waar daar erkenning gegee word aan goeie administrasie en professionaliteit ’n vereiste is.
Elkeen van hulle sal seker ’n lang storie hê oor hul ervaring met die plaaslike raad en gemeenskap.
Alhoewel die ANC op nasionale vlak en by monde van die president “cadre deployment” veroordeel en die swak prestasie van munisipaliteite daaraan toeskryf, is dit steeds op Oudtshoorn aan die orde van die dag. Hier is selfs die DA en ander partytjies met een of twee raadslede daaraan skuldig.
Die aanbied van die posisie van ’n senior amptenaar aan ’n party om te verseker dat die party steeds deel bly van ’n koalisie, word as doodnormaal aanvaar. Standaarde en dienslewering is ondergeskik hieraan.
Die prosesse vir die aanstelling van ’m munisipale bestuurder en ander se-nior amptenare is juis nou weer aan die gang en die uitkoms daarvan sal met arendsoë dopgehou word.
Gaan politieke affiliasie, nepotisme en “cadre deployment” die oorwegende faktor wees, eerder as kwalifikasies, ervaring, etiek en professionaliteit?
Kom ons kyk.
– Anti cadre deployment, Oudtshoorn