Bravo!
Dit was met groot dankbaarheid en waardering dat ek die voorbladberig in Die Hoorn van 17 Februarie kon lees.
Baie dankie aan Afriforum en sy vrywillige werkers, asook OGI en HHCPO vir hul prysenswaardige pogings om uit te reik, hande uit die moue te steek en ons dorp te probeer red.
Sonder om negatief te klink, wil ek egter my kommer uitspreek oor die uitwerking wat hierdie mooi gebaar op munisipale werkers en rommelstrooiers gaan hê.
Gaan die werkers nie maar net redeneer dat hier nou hulp opgedaag het en nou kan ons nog minder doen om ons verpligting na te kom nie. Hulle doen reeds die absolute minimum vir bogemiddelde vergoeding.
Aan die ander kant kan die rommelstrooiers maar net voortgaan om rommel na hartelus en onbedagsaam te laat val en so te laat lê – daar is mos mense wat agter ons sal kom skoonmaak.
Wie moet betaal? Meeste van ons betaal munisipale belasting, water- en ligterekeninge, anders kan die dienste nie gelewer word nie. Somige van ons is ook lede van Afriforum en betaal ledegeld. Daar is dus in sommige gevalle dubbele koste. Die vrywillige werkers, vermoed ek, doen ook nie die werk sonder vergoeding nie.
Ek stem saam dat indien elkeen die straat en sypaadjie voor sy huis/besigheid skoonmaak dit ’n baie groot verbetering sal bring. Wat maak ons dan met die personeel wat veronderstel is om die werk te doen? Aflegging? Kan hulle dan ingespan word om die stukkende strate te (probeer) herstel?
Dit het hoog tyd geword dat ons munisipaliteit wakker skrik uit hul doodslaap en hul verant- woordelikhede nakom.
Daar rus ’n baie groter verantwoordelikheid op die skouers van die munisipale bestuurder en burgemeester as om ’n toga en goue ketting te dra en vir foto’s te poseer.
Gaan groot of gaan huis toe. Sterkte.
– Pieter, Oudtshoorn
Kleiner partye maak geen geheim dat hulle posisies wil hê
Tans is die kleiner partye in die raad besig om ’n grap te maak van so ’n verantwoordelike struktuur wat ’n dorp moet bestuur. Hulle maak geen geheim daarvan dat hulle posisies wil beklee ten einde in ’n posisie te wees om familie, vriende en partylede aan te stel nie.
Die ironie hiervan is dat die raadslid geen idee van plaaslike regering het nie, en nou sit hulle nog met mense in hul kantore wat nog minder weet en net daar is vir die geld.
Hierdie mense in die kantore van die voltydse raadslede behoort nie deur die belastingbetaler betaal te word nie, maar deur die party wat hy verteenwoordig.
’n Verdere onding is die feit dat hierdie politieke aanstellings een of ander tyd oorgeplaas word na die permanente personeel. Hulle is veronderstel om net vir die termyn te bly in die kantoor van die burgemeester, onderburgemeester en speaker.
Dit is vreemd dat die MEC en politieke leiers te midde van hierdie wanorde doodstil is.
Het hulle dan nie die kiesers belowe dat dit nie sou gebeur nie.
– Slimkop-Oudtshoorniet
Identiteit
Die debat rondom identiteit is baie belangrik omdat IDENTITEIT ons onlosmaaklik koppel aan ons ERFENIS, ROEPING en BESTEMMING!
Oor Krotoa se identiteit het niemand probleme nie, maar wat van Pieternella, haar dogter? Haar pa, Pieter van Meerhof, was ’n Europeër. En wat van Krotoa se kleinkinders, want Pieternella se man – ene Zaaiman – was ook ’n Europeër.
Die wydverspreidheid van hierdie “vermenging” wat deur honderde jare plaasgevind het, is in 2010 bevestig deur die Genoominstituut van Stellenbosch. Hulle bevinding was dat die mensegroep waarvan ek deel is, “geneties een van die mees diverse groepe ter wêreld is”.
Kyk maar rondom u na die voorkoms van ons mense (khoin).
Khoin of khoen (mense of persone) is die meervoud van khoi/khoe wat mens/persoon beteken. ’n Mansmens is khoib/khoeb en ’n vroumens is khois/khoes.
Hierdie vermenging is onomleerbaar, want die DNS van verskillende mensegroepe, wat in verskillende persentasies deur ons mense in hulle rondgedra word, kan deur niks (nie eers deur ystervarkpenne) en niemand omgekeer word nie.
Daar is verder ook niks histories, linguisties, geografies, geneties of antropologies wat die bestaan van ’n sogenaamde “khoisan/khoesan; KHOI-SAN of KhoiSan/KhoeSan groep nou en in die verlede kan substansieer nie!
“Khoisan” is ’n chronologies onsinnige, derogatiewe konkoksie wat die Duitser Leonhard Schultze in 1928 [94 jaar gelede] uit sy duim gesuig het.
Isaac Schapera het hierdie konkoksie in sy boek The Khoisan Peoples of South Africa: Bushmen and Hottentots wat in 1930 gepubliseer is, gepopulariseer.
Ons kan dobbel met ons identiteit, soos Fiela Draai wat Felicity Turner geword het en in die proses erfenis, roeping en bestemming prysgee, of ons kan die menings van polities korrekte individue propageer sonder om outentieke historiese rekords te bestudeer, of ons kan die werklikhede (onomkeerbaar vermeng) in die gesig staar sonder om ons daarvoor te skaam.
– Sydney Opperman, Gqeberha