Kaapse ginekoloog kom praat met vroue oor intimiteit, seks

Dr Marlena du Toit. Foto verskaf

DEUR die jare wat dr Marlena du Toit as ginekoloog en verloskundige in Kaapstad gepraktiseer het, het sy duisende pasiënte gesien en suksesvol behandel vir ’n legio vrouekwale. Tog het iets haar gepla: sy het nie ’n antwoord gehad vir die vroue wat probleme met seksuele gesondheid gehad het nie.

“Ná ’n lang soektog het ek die wonderlike veld van seksuele medisyne ontdek. Die probleem was dat dit nie beskore was vir die vroue in Suid-Afrika nie. In Europa en die VSA was die veld besig om te groei, maar in ons land was daar net ’n paar mense (meestal omstrede) wat in die openbaar oor hierdie taboe onderwerp gepraat het. Ginekoloë en uroloë praat veral nie oor seks en verwante onderwerpe nie,” vertel Marlena.

Haar soektog het haar gelei na die Europese Skool van Seksuele Medisyne, wat slegs een keer ’n jaar oor ’n periode van tien dae in Hongarye aangebied word. “Dit was in 2018 en ek het gedink dit sal onmoontlik wees om dit by te woon – dit sou ’n allemintige 2 400 Euro’s kos!

“Maar God se genade is groot en in Julie 2018 het ek ’n internasionale beurs gekry om die skool te gaan bywoon,” sê sy.

In November 2018 het sy, “skoolbank-styl”, in Budapest klas gedraf en meer oor dié onderwerp geleer. Terug in SA het sy vir ’n jaar gevallestudies gedoen, wat sy by die Europese raad moes indien om gekeur te word vir die finale eksamen.

“Op 23 Januarie vanjaar het ek in die yskoue Praag die eksamen afgelê en op 4 Februarie gehoor dat ek geslaag het. Ek is nou geregistreer om te praktiseer in die veld van seksuele medisyne en is geakkrediteer by die Europese raad.”

Daar is tans slegs tien mense in die land wat met dié kwalifikasie kan spog, waarvan dr Etienne Kok die bekendste een is. Marlena is die eerste ginekoloog in die Wes-Kaap wat die veld van seksuele medisyne betree het.

Kom luister na haar op Saterdag 21 November wanneer sy by Celebratio se vrouedag gaan optree.

Sy het die vermoë om die mediese studies en modelle in “gewone taal” aan ’n mens oor te dra.

“Ek hoop om met my praatjie vroue vry te maak van die mites van seks, om vroue wat fisiek seer het, se pyn te verlig en om vroue wat emosioneel skade gely het as gevolg van seksuele dade, te help.”

Die geliefde skrywer Tania Smit, bekend vir haar raakvatbeskrywings oor hartsdinge soos ma-wees en verlief-en-verlore-wees, tree die dag saam met Marlena op.

Kaartjies kos R200 en sluit ’n verwelkomingsdrankie, wyn en eetgoed in. Dit is beskikbaar by Marita by 0823356059 of info@celebratio.co.za. Slegs 100 plekke.

Die Hoorn is die mediaborg van die geleentheid.