Boere moedeloos oor proses wat so sloer
Deur Tisha Steyn
BOERE wie se water op hul plase geregistreer moet word om aan wetgewing te voldoen, is moedeloos omdat die proses sloer.
“Die registrasie van water wat aan plase geallokeer is, het in 2000 begin en moes al in 2002 afgehandel gewees het,” se Deon Haasbroek, wat boere help met die registrasieproses.
Boere wat ’n laat registrasie wil doen, wysigings op ’n bestaande registrasie wil aanbring, of die plaas op iemand anders se naam wil oordra – soos in die geval van ’n erflating of ’n verkooptransaksie – word deur die vertraging in die proses geraak.
Veral boere wat hul plase wil verkoop, word nadelig beïnvloed, want banke benodig ’n op-datum-waterregistrasie voordat hulle ’n lening aan die koper sal toestaan. Dit lei daartoe dat boere wat hul plase wil verkoop, nie met die transaksie kan voortgaan nie.
Haasbroek, wat sedert 2015 voltyds ’n konsultant is wat boere help om laat registrasies te doen of dokumentasie op datum te kry, is moedeloos omdat die proses deur verskeie faktore in die wiele gery word.
“Daar is ongeveer 20 boere in die Gourits-opvangsgebied wie se registrasies nie afgehandel kan word nie omdat die proses vertraag word. Boonop word geen inligting oor spesifieke registrasies bekend gemaak nie. Van die boere wag al sewe maande vir ’n registrasie waarsonder hulle geen oordragaksies kan doen nie.”
Breede-Gourits Catchment
Management Agency
Die proses van waterregistrasie in die Klein Karoo is die verantwoordelikheid van die Breede-Gourits Catchment Management Agency (BGCMA).
“Die nasionale departement van waterwese het die Water-administrasie-registrasiebestuurstelsel (Water Administration Registration Management System of WARMS) aan die GBCMA oorgedra,” verduidelik Haasbroek.
Sedertdien het die GBCMA ’n kontrak vir die verifikasie en bekragtigingsproses (Validation and Verification V&V) vir plase in die Olifantsrivier-opvangsgebied aan die Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingsraad (WNNR) toegeken.
Die doel van die V&V-proses is om bestaande waterregistrasie te ondersoek ten einde vas te stel of dit korrek en wettig is. “Dit is ’n belangrike proses wat bepaal watter waterbronne bestaan, hoeveel water uit die bron onttrek word, wie dit deel en hoeveel water elkeen toe-eien.”
Volgens Haasbroek is die reaksie op elke navraag oor ’n spesifieke waterregistrasie dat die registrasie moet wag totdat die V&V-proses afgehandel is, en die proses kan tot twee jaar duur.
Die BCMA het met die ter perse gaan nie gereageer op ’n navraag oor die kwessie nie.