’n UNIEKE katalogusveiling van teeltmateriaal van die Oudtshoorn-navorsingsplaas word op 10 Maart gehou.
Dié veiling sal aan volstruisprodusente die geleentheid bied om te baat by die teeltprogram van die navorsingsplaas sonder om self al die insette te maak wat nodig is om genetiese seleksie en vordering moontlik te maak.
Volledige teeltinligting word vir elke volstruis verskaf.
Die volstruise het ’n vol drag vere en kan voor die veiling besigtig word om die veerkwaliteit te beoordeel.
Teling is ’n doeltreffende hulpmiddel wat in alle veebedrywe gebruik word om produksie te verbeter.
In die volstruisbedryf, waar produkkwaliteit toenemend belangrik raak, kan teling ook doeltreffend ingespan word om produksie asook produk-kwaliteit met die verloop van tyd te verhoog.
Die Wes-Kaapse Departement van Landbou is tans die enigste instansie met ’n kudde hulpbron-volstruise wat met behulp van teeltwaardes geselekteer word.
Prof Schalk Cloete (nou verbonde aan Stellenbosch Universiteit, ná sy aftrede in 2019) het reeds langer as 20 jaar gelede twee teeltlyne op die departement se Oudtshoorn-navorsingsplaas gevestig, naamlik een vir reproduksie (eier- en kuikenproduksie) en een vir gewig.
Dié navorsing word deur die huidige personeel op die navorsingsplaas voortgesit.
Gewig is belangrik in die lig van die feit dat die volstruisbedryf grootliks gebaseer is op die produksie van slagvolstruise, waar die vleis, vel en vere gebruik word om produkte van hoë kwaliteit aan nismarkte te verskaf. Die karkas- en velgrootte is hoog gekorreleerd met die slaggewig.
Behalwe vir reproduksie is die vel- en veerkwaliteit ook van groot ekonomiese belang by volstruisproduksie.
Velkwaliteit word beïnvloed deur aspekte wat visueel afbreek doen aan die leer.
Velgradering word daarom bepaal deur die voorkoms van letsels en defekte, soos die oormatige voorkoms van hare wat onooglike haarfollikels (klein gaatjies) op die leer teweeg bring.
Daar word jaarliks teeltwaardes vir reproduksie, gewig en haarfollikels bereken vir jong broeivolstruise uit die teeltprogram op die navorsingsplaas. Dit is dié teeltmateriaal wat per veiling te koop aangebied word.
Die veiling word deur Klein Karoo Veilings & Veebemarking op 10 Maart om 15:00 by die navorsingsplaas se konferensiefasiliteit aangebied.
Vir meer inligting kontak die navorsingsplaas by 044 2039404 of die afslaer, PA Geldenhuys, by 082 410 7705. (Deur Anel Engelbrecht)