Agri Wes-Kaap wil ‘deel van oplossing’ in Suid-Afrika wees

AGRI Wes-Kaap het gister (Woensdag 19 Februarie) hul voorlegging oor die wysiging van Artikel 25 by die Parlement in Kaapstad ingedien.

Jannie Strydom, uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap, sê Artikel 25 is nie ’n hindernis vir grondhervorming nie, ook nie die feit dat Artikel 25 (3) van die Grondwet regverdige en billike vergoeding vereis nie.

Volgens hom is dit bevestig deur die hoëvlakpaneel oor sleutelwetgewing.
“Agri Wes-Kaap kan nie die voorgestelde wysiging steun nie.

“Dit sal tot nadeel van die breër Suid-Afrikaanse bevolking strek en sal nie totale institusionele ondoel­treffendheid regstel nie.

“Die werklike probleme is ’n gebrek aan implementering en swak implementering van bestaande wetgewing en programme, ’n onvoldoende begroting en korrupsie,” het hy gesê.

Strydom sê Agri Wes-Kaap is toe­gewyd om deel van die oplossing vir suksesvolle grondhervorming in die land te wees en om by te dra tot ’n oplos­singsgedrewe grondhervor­mingsbeleid wat verhoogde landbou­- produksie en voedselsekerheid vir die Wes-Kaap en Suid-Afrika ver­seker.