Hoe veilig is jy in die jagveld?

TOE ek jonk was, het my pa my die eerste les rond­om vuurwapenveiligheid geleer deur te sê: “Pasop, die duiwel laai ’n geweer”. Dan word ons groot met die idee dat vuurwapens die skuld gegee word as daar ’n skietongeluk plaasvind. Wel, my siening is dan moet die lepel die skuld gegee word as mense vet raak…

Vuurwapenveiligheid in die algemeen behels dat ons prakties blootgestel moet word aan die werking van die vuurwapen. Kom ons noem dit maar die ‘geweer’ vir dié doeleindes. Hoe werk ’n geweer, watter kalibers is beskikbaar, waar is die tromp en hoe hou ek dit vas.

Kortliks, dit is baie sleg as ouers kinders te vroeg aan gewere blootstel, veral as dit ’n groot kaliber is wat
“skop”. Begin op ’n vroeë ouderdom, met ’n windbuks, dan ’n .22, daarna ’n klein kaliber soos 222 of 223 – ’n knaldemper help regtig baie. Hierna, as die kind gewoond is hieraan en die werking van die geweer verstaan, kan die groter kalibers, soos ’n 303, 308 of 30‐06, bekendgestel word.

Jong kinders verstaan moeilik die konsep rondom veiligheid en trompbewustheid, maar hier speel die ouers ’n belangrike rol. Almal het nie toegang tot so baie verskillende kalibers nie, maar dit is altyd beter om eerder te wag as om te vroeg te begin. Dit bring my by die verantwoordelikheid van die wettige vuurwapeneienaar.

Die geweer is ontwerp slegs met een doelwit: om dit wat in die visier is te tref (en te dood). Hetsy dit nou ’n dier of ’n mens is. Daarom is vuur­wapeneienaarskap ’n bitter groot verantwoordelikheid, want as mens het God die natuur onder ons beheer geplaas om te bestuur, en daardeur het die sport van jag ontstaan, as ’n metode om wild te bestuur en te benut.

Hier volg kortliks ’n paar veiligheidswenke vir as jy in die veld is en vir elke geleentheid waar jy jouself bevind met ’n vuurwapen in jou hand:

  1. Wys altyd die tromp van ’n geweer in ’n veilige rigting weg van mense af, vir indien daar per ongeluk ’n skoot sou afgaan dat die rigting veilig is. Jagkalibers maak groot wonde wat selde oorleef word, veral as jy verafgeleë is. Maak seker waar is die naaste dokter, kry vooraf sy telefoonnommer en maak seker jy weet hoe om bloeding in die veld te stop. Kortliks: maak seker jy het ’n mediese noodplan!
  2. Hou altyd jou vinger weg van die sneller totdat jy gereed is om te vuur. Beweeg slegs jou snellervinger na die sneller sodra jy dit wat jy wil skiet in die visier het.
  3. Hanteer alle vuurwapens asof dit gelaai is totdat jy self bevestig het dit is ontlaai en veilig. Die definisie van ontlaai is dat die geweer en die ammunisie van mekaar geskei is. Magasyne is verwyder en die rondtes/patrone is uit die geweer se interne magasyn verwyder. Maak die slot oop, en hou dit oop tussen mense, agter op ’n bakkie of selfs al plaas jy dit in jou drasak. Moenie skaam wees om dit van iemand te verwag nie. As jy so ’n persoon aanspreek behoort dit nie weer te gebeur nie. Jagreëls is jagreëls!
  4. Weet wat is jou teiken, maak seker, en weet ook wat agter die teiken staan. Hiermee gaan gepaard dat jy weet waar jou koeël tot stilstand gaan kom.

Om kortliks hieroor uit te brei, noem ek graag die volgende. Wanneer jy die geweer veilig maak, inspekteer die magasyn sodat niks binne die geweer is nie, inspekteer die kamer fisiek, en dan druk jy die sneller droog terwyl die tromp in ’n veilige rigting wys. “Droog” verwys na die aksie om die sneller te druk sodat die slagpen op ’n leë kamer slaan.

Dit maak ’n klank wat jou en diegene wat in jou teenwoordigheid is, gerusstel. Om ’n veiligheidsaksie uit te voer en ’n lewe te spaar is goedkoper as om ’n stukkende slagpen te vervang.

Die ou geloof dat ’n droë skoot die geweer beskadig, is oumensstories. In my ervaring van byna 30 jaar in opleiding het dit nog nooit gebeur nie. Dit laat mense veilig voel om die droë skoot te hoor!

Vinger weg van die sneller is ’n algemene bykomende veiligheidsmaatreël, indien nie die belang-rikste nie.

Ons almal verstaan die konsep. Wanneer jy die geweer hanteer, oorhandig, veilig maak, laai of ontlaai, moet jou vinger op ’n ander plek wees as naby die sneller.

Maak ’n vuurwapen veilig terwyl jy dit gebruik. Wys die tromp in ’n veilige rigting, en neem kennis dat voor jou in die grond nie ’n veilige rigting is nie. As ’n skoot afgaan, is daar klippe en skrapnel en almal dra nie brille in die veld nie.

Om ’n bok te skiet wat op die horison staan, is onveilig! Die koeël verlaat die bok by die uit-gangswond, en dit kan nog tot sover as 5 km trek.

Ter afsluiting wil ek graag nog net twee goed noem wat my eie ondervinding in die jagveld my geleer het. Kamoefleerklere lyk “cool”. Dit is tegnies die enigste voordeel. Dit wat tans op die mark is, is natuurlik warm, waterdig, van hoë gehalte en geskik vir jagomstandighede. Daarom is dit, tesame met puik bemarking, gewild vir jagdoeleindes. Maar onthou, die meeste wild sien slegs skakerings van blou.

Wees asb versigtig deurdat ek die volgende ervaring met julle deel: ek en my 5-jarige seun sit albei met kamoefleerklere in die veld. ’n Trop springbokke kom verby tydens die voorsitjag. Ek skiet die eerste, en hy val onmiddelik. My seun lyk soos Usain Bolt in die wegspringblokke gereed om sy lus vir ontdek te bevredig. Die tweede val bietjie na links en sowat 100 m weg van die eerste. Ek maak die geweer veilig, en stap vorentoe. My seun hardloop! Ek het my oë vir ’n oom­blik weggeneem van my seun af, en op die grond gekyk terwyl ek stap om nie oor klippe te val nie, en toe ek hom soek is hy weg. Toe ek hom roep, kyk hy om waar hy langs die eerste springbok sit, en sy wit gesiggie met die omkyk na my toe, verraai sy posisie. As ek op daardie afstand hom nie kan sien nie, is daar dalk ander jagters wat verder weg lê wat hom ook nie kan sien nie… hulle kan dus nie punt #4 hierbo bevestig nie. Die dra van ’n helderkleurige pet kan dus nie oorbeklemtoon word nie… of sodra daar beweeg word, moet ons iets aantrek wat ons duidelik laat uitstaan. Bewe-ging self is nie genoeg om uit te staan nie.

Laaste maar nie die minste nie, wees verant­woordelik, en onthou drank en buskruit meng nie saam nie. Ons is die voorbeeld, wat ons vandag doen, gaan die toekoms bepaal.

Lekker jag, mense! Geniet God se natuur, benut dit, maar pas julle self ook op. (Deur Nico van der Merwe)