
Algernon Kennel by sy kunswerke. Foto: Deon Meyer
Deur Deon Meyer
NOEM die naam Algernon Kennel in die kaashoofstad van die Wes-Kaap, en mense begin land en sand gesels oor die talentvolle jongman van hul dorpie.
Algernon, wat op Ladisnith woon, vertel hy het in 2015 sy mentor, Anthony Noble van George, toevallig in die plaaslike Lutherse Kerk, raakgeloop.
Noble het van sy sketse gesien en aangebied om hom van skilderdoeke te voorsien.
Algernon sê hy het aanvanklik slegs landskappe geskets, maar nadat hy sy beeldskone wederhelfte. Andriette, op doek verewig het, het hy hom al hoe meer op die verf van gesigte begin toespits.
Dié nederige skilder sê: “Ek skroom nie om eer aan my Hemelse Vader te gee vir die uitsonderlike talent waarmee Hy my toebedeel het nie.”
Sy eerste deelname aan ’n kunsuitstalling vind vanaf 3 tot 7 Oktober in die NG-kerksaal op Ladismith plaas.
Hy sê hy het nog baie kunsdrome vir die toekoms.
“Ek droom ook van ’n eie ateljeetjie waar ek nie net kan skilder nie, maar ook jongmense die liefde vir kuns kan aanleer.
“Tans dink ek nog nie aan verkope nie, maar eerder om my talent uit te leef.”