’N INISIATIEF om die Karoo se kos, gasvryheid en buitelugaktiwiteite te vier en die streek se ekonomie te bevorder, was die droom wat gelei het tot die Karoo Food Festival wat agt jaar gelede in Cradock begin is.
Die fees vind weer dié naweek plaas (23 tot 25 April) nadat dit verlede jaar deur Covid-19 en die inperking gekelder is. Die fees beloof markte, werkswinkels, avontuur, lewendige musiek en pret vir die hele gesin. Dit wil nie net die plaaslike gemeenskap en produsente in die streek bevorder nie, maar bied ook ’n ideale wegbreekgeleentheid vir inwoners van die Suid-Kaap dié langnaweek en skoolvakansie.
Die fees se kernspan in Cradock word bygestaan deur mense uit ’n wye radius: Bedford en die distrikte Middelburg en Tarkastad. Avontuur-aktiwiteite op die program neem besoekers na die omliggende heuwels; en verkopers en produkte vanuit onder meer Nieu Bethesda en Graaff-Reinet kom fees toe.
In die woorde van Lisa Ker, een van die stigters. “Groot dinge gebeur wanneer kleiner gemeenskappe saamwerk. Hoe meer plattelandse mense daarby baat, hoe meer word dit vir jongmense moontlik om ’n toekoms tuis eerder as in die stede te bou.” (Vir die program/inligting gaan na Karoofoodfestival op Facebook.)
Karookos en avontuur dié naweek by Karoo Food Festival!
Kuier by ’n mark tydens ’n vorige fees. Foto: Sarina Engelbrecht