VOLGENS Mareli Stolp, sameroeper van vanjaar se KKNK-Kannapaneel, was vanjaar se 25ste KKNK ’n uitsonderlike, enorme en uitstekende fees.
Die Kannapaneel bestaan uit ’n groep kundiges wat al die produksies en uitstallings by die fees besoek om uiteindelik ’n kortlys op te stel waaruit die Kanna-wenners aangewys sal word.
Sy gesels soos volg oor wat sy en die ander paneelllede vanjaar by die KKNK waargeneem het:
“Wat veral opvallend was, was die omvattendheid van die feesaanbiedinge in alle genres – kuns, musiek en teater.
“Temas so divers soos magswaan, grondbesit, seksuele geweld, dwelmverslawing en apartheidera-ongeregtigheid is aangespreek, maar daar was natuurlik ook meer as genoeg vir lekker lag – in hysbakke, agtertuine en kroeë. En tussendeur is daar voete gestamp op musiek van Koos Kombuis tot Miriam Makeba.
Die KKNK kan met trots terugkyk op 25 jaar van uitnemendheid en die fees se gehalte en kwaliteit maak ’n mens opgewonde oor dié fees se toekoms,” sê Stolp.