So lyk dit tydens ‘n KKNK op Oudtshoorn. Foto: KKNK
FEESGANGERS met ’n beperkte begroting kan ook vanjaar die fees geniet, sê Hugo Theart, artistieke direkteur van die KKNK oor die fees wat op Donderdag, 21 Maart, op Oudtshoorn afskop.
Baron van Reedestraat bly die hartklop van die fees, met daaglikse optredes deur van ons voorste musici, akteurs en TV-persoonlikhede op die RSG-verhoog en by die kykNET-leefarea. Buiten vir musiek, word straatteater-verrassings deur internasionale en plaaslike kunstenaars hier aangebied. ’n Aantal diverse gespreksreekse en radiodramas word gratis aangebied en as deel van ons visuele kunsprogram is ’n uitstalling saamgestel wat al ons vorige feeskunstenaars betrek,” vertel Theart.
“Benewens al hierdie vermaak, word daar ook smulkos in Baron van Reedestraat verkoop, met verskeie watergate en yskoue drinkgoed wat verseker dat feesgangers nooit dors is nie.”
Die Burger Praat Saam Diskoers-reeks word soggens om 08:30 in die Netwerk24 Feeskafee (hoek van Baron van Reedestraat en Voortrekkerweg) aangebied. Met die nasionale verkiesing om die draai, word ’n paneelbespreking met onder meer. Anita Visser, Ebrahim Rasool, Melikhaya Xhego, Bonginkosi Madikizela, Patricia de Lille en Pieter Groenewald op 25 Maart aangebied. Ander onderwerpe en brandpunte wat oopgevlek word, sluit in: Is ons media in gevaar? (21 Maart), Ek is boer (22 Maart), Eiendomsreg-debat vlam op (23 Maart), Volstruisbedryf skud vere reg (24 Maart), Korrupsie in die privaatsektor (26 Maart) en Misdaad en die rol van bendes (27 Maart). Feesgangers kan dié gesprekke gratis bywoon.
Boekgesprekke met skrywers van die jongste boeke word daagliks gratis in die ATKV-Boeke-oase aangebied. Gesprekke vind plaas met onder andere Pieter-Dirk Uys, Koos Kombuis, Armand Aucamp, Marina Albertyn, Susan Coetzer, Carina Diedericks-Hugo, Sihle Khumalo, Dana Snyman, Willa Boezak, Hans du Plessis, Wannie Carstens, Danny Titus, Pieter Fourie, Amore Bekker, Jan-Jan Joubert, Willemien Brümmer, Karina Szczurek en Erns Gründling.
Die fees se gewilde teatergesprekke vind na afloop van uitgesoekte dramas plaas en bied ’n geleentheid aan gehore om met die rolspelers in gesprek te tree. Hierdie gesprekke sluit in Tom Lanoye se epiese toneelstuk Koningin Lear, Ira Blanckenberg se outobiografiese drama Haal asem, Christo Davids se My seuns, Athol Fugard se klassieke Suid-Afrikaanse toneelstuk Statements After an Arrest Under the Immorality Act en Marina Albertyn se Bloed en bodem. Daar word ook oor jeugtoneel gesels as deel van ATKV-Tienertoneel. Feesgangers hoef nie kaartjies vir die vertonings te hê om dié gesprekke, na afloop van die produksies, by te woon nie.
Feesgangers kan daagliks tussen 10:00 en 18:00 hul skoene by die kykNET-leefarea uitskop en hiér gratis vermaak geniet. Daar is ook ’n kans om skouers te skuur met van ons land se gunsteling TV-akteurs en -persoonlikhede.
RSG is vir die 25ste jaar by die KKNK betrokke en die RSG-verhoog neem sy ikoniese plek in voor die CP Nel-museum. Luister daagliks vanaf 11:00 na musikante, sprekers en gewilde RSG-aanbieders. ATKV-Kampvuur word aangebied deur die gewilde RSG-aanbieders, Johan Rademan en Jacqui January. Hulle verwelkom saans feesgangers by die RSG-verhoog waar storievertellers bymekaarkom en verhale van heinde en verre met die gehoor deel.
Met RSG se Die Beiteltjie-program klink die vakmanskap van die dramaturg en letterkundige op in die CP Nel-museum. Kom klink ’n glasie en luister na bekroonde radiodramas uit die SAUK se klankargief.
Elf visuele kunsuitstallings gaan jou ook nie ’n sent uit die sak jaag nie. Dié uitstallings word in die Prince Vintcent-gebou aangebied, met onder meer die KKNK25-terugblikuitstalling wat ’n viering van die feeskunstenaars van die afgelope 24 jaar is. Absa neem visuele kuns na die strate van Oudtshoorn met Maakit Mooi, waarmee hulle vyf funksionele kunswerke installeer om die dorp te verfraai. Dié kunswerke is ’n byvoeging by die vyf wat reeds verlede jaar deur Absa geïnstalleer is.
Lucia Boer, visuele kunskurator, tree daagliks om 11:00 in gesprek met die visuele kunstenaars en fokus op die relevante temas van hul werk. Boer neem feesgangers van 22 tot 24 Maart om 15:00 op ’n gratis rondleiding wat al die uitsallings belig.
Springtime, ’n produksie vanuit Nederland en moontlik gemaak deur die Koninklike Nederlandse Ambassade, Pretoria, word as deel van die vierde Uitkampteater-program aangebied en is ook gratis. Kaartjies na die ander Uitkampteater-produksies, wat drama, komedie en fisiese teater insluit, kos slegs R30.
Met al hierdie gratis vermaak tot feesgangers se beskikking, is daar geen rede om die bank te breek ter viering van ’n kwarteeu van die kunste nie.